Efesiërs 5:8-9 sê:
“Vroeër was julle die ene duisternis,
maar nou in die Here is julle lig.
Leef dan as mense van die lig.
Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is.”

 

Wanneer mens groot klippe in die veld optel,
dan skarrel daar allerhande rare en grillerige goggas rond,
in die skielike lig wat op hulle val.
Uit die donker na die naaste donker kol terug!
Goggas op soek na donker kolle.

 

Kersfees is die gebeure,
waar die klippe in ons lewe weggerol word,
om die Lig daarop te laat val.
Kersfees rol die klip weg, om die Lig op die mensdom te laat skyn,
die mens wat in die duisternis lewe.

 

Wat is die effek van hierdie Lig op jou lewe?
Goggas kom soek kolle van donkerheid in ons lewens.
Hoeveel woonplek en aanteelplek, stel ons met ons lewens beskikbaar?

 

Kersfees is inderdaad ‘n tyd van besinning.
Noudat ons gaandeweg die liggies begin afhaal,
en die geskenke begin gebruik,
en die glans van Kersfees begin vervaag,
bly die vraag:
“Vra jou voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is.” Ef. 5:10.
Wanneer ek voortdurend hierdie vraag vra,
en met die Gees in kontak bly,
sal ek bly klippe wegrol,
waaronder goggas in my lewe wil kom donkerte soek!
Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is!

 

Ernest