Desember is ‘n terugkyk maand.
Die maand met die vraag:
Wat het ek in hierdie jaar met my geleenthede gemaak?
Desembermaand is vir baie mense ‘n hartseermaand.
Geliefdes wat in die jaar oorlede is.
Die maand met die meeste selfmoordpogings.
Die maand waarin gedink word aan egskeidingsverlies,
met families wat uimekaar geruk is.
Hoe het ek ook in die afgelope jaar saam met die Here geleef?

 

Die totale lewensverandering,
waarvoor die Seun van God met Kersfees na die wêreld gekom het,
kom in die eerste plek van God af.
Hoe kan ek nou in die nuwe jaar wat voorlê,
met die Heilige Gees saamwerk,
om aan die einde van die volgende jaar,
weer hier te kan staan, met vrymoedigheid voor Hom?

 

Romeine 12:2 sê:
“Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie,
maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.”
Om met Heilige Gees vernuwende denke in die nuwe jaar te gaan leef,
sal dit ‘n wonderlike jaar maak, ten spyte van omstandighede.
So sal jy, aan die einde van die komende jaar, daarvan kan getuig.

 

Kyk na die praktiese riglyne wat Romeine 12:9-21 dan daarvoor gee:
Ek kies om opreg lief te hê, en opreg te gee.
Ek word deur die Gees meer en meer selektief.
Ek hou vas aan wat goed is.
Ek kies om hartlik en eg te wees.
Ek kies om my medemens te respekteer.
Ek lê my toe op toewyding en geesdrif vir die Here.
Ek leef in eindelose hoop as kind van God.
Ek val nie uitmekaar as dit swaar gaan nie.
Ek is ‘n bidder, ‘n helper, ‘n uitreiker.
Ek het ‘n oop hart en ‘n oop huis.
Ek kies vergifnes bo bitterheid.
Ek gun ander hul vreugde en sukses.
Ek treur saam met die wat treur.
Ek veroorsaak nie verdeeltheid nie.
Ek leef in eenvoud saam met eenvoudige mense.
Ek is inskiklik en oortuigbaar met ‘n leerbare gees.
Ek loop nie met wrokke nie.
Ek leef God se goedheid teenoor mý uit!
Hoe kán ek ánders!?

 

Laat God jou verander deur jou denke te vernuwe!

 

Ernest