Op Nuwejaarsdag van 1929 het ‘n Amerikaanse voetbalwedstryd plaasgevind.
Die Universiteit van Kalifornië se een speler het die bal opgetel,
en in die verkeerde rigting gehardloop, oor die doellyn!
Hyself kon dit nie eers verklaar nie,
en het gedink dat hy in kontak ‘n harde hou moes gekry het.
So het sy opponente punte gekry.
Met rustyd is Roy Riggles van die veld af gejou.
Hy het die bynaam van “Wrong Way Riggles” gekry.
Die kleedkamer was doodstil.
Roy het ontsteld eenkant gesit.

 

Na rustyd het die afrigter, Nibbs Price, na Roy gedraai en gesê:
“Dieselfde span wat die eerste helfte gespeel het,
speel ook die tweede helfte.
Roy het bly sit.
Hoe kon hy die skare en sy spanmaats in die oë kyk?
Hy het hulle almal in die steek gelaat.
Afrigter Price het egter vir hom gesê:
“Roy, staan op en gaan speel.
Net die helfte van die wedstryd is verby.
Roy Riggles het die wedstryd van sy lewe gespeel.
Hy is van die veld af gejuig.

 

Onthou, dit maak nie saak hoe groot ons sonde en mislukkings is nie.
Volgens Romeine 5:20 is God se genade nog groter.
“Hoe meer die sonde geword het,
hoe oorvloediger het die genade geword.”
God gee, net soos afrigter Nibbs Price, vir jou ‘n nuwe kans!
Gaan speel hierdie jaar jou hart uit op die speelveld van die lewe!

 

Dit is wat God deur sy genade vir jou wil sê:
Komaan! Gaan terug op die veld!
Net die helfte van die wedstryd is verby!
Gaan maak nou jou impak!

 

Ernest