Die stof van die oujaar is afgeskud.
Die opwinding van die nuwe jaar en verlof is omtrent verby.
Ons moet nou die jaar in die oë kyk.
Wees in die nuwe jaar ‘n agent van vrede.
Een van die kenmerke van ons tyd is die vreesagtigheid waarin mense lewe.
Ons sluit ons toe en beperk die vryheid van ons beweging.
Ons kyk eers die kat uit die boom met enige iets of iemand.
Ons leef agter mure en alarms, en party dra wapens.
Sal die nuwe jaar beter lyk?
Waarskynlik nie.
Ons sal steeds op lughawens deur veiligheidsmaatreëls gaan.
Ons sal nog steeds by sommige winkels jou strokie en sakke wys.
Ons sal steeds met die nuus wonder wanneer korrupsie,
misdaad, en geweld gaan afneem.
Die vraag is nie of dinge anders gaan wees nie,
maar of jy self anders gaan leef?
Hoe gaan jy met al die dinge saamleef?
Jy moet voluit bly leef, teen die “odds” in!
So word jy ‘n triomfeerder oor jou omstandighede.
Leef met selfvertroue te midde van onsekerhede.
Moenie pal na feite soek nie, maar streef ook na leéf.
Feite bring nie al die antwoorde nie.
Die menslike bestaan is nie net uit feite af te lei nie.
Die toekoms lê nie helder en oop voor jou nie, ten spyte van al die feite.
Dít is ‘n feit!
Dit het ook met die skaapwagters met Kersfees gebeur.
Wanneer hulle by hul skape is, verander hul omstandighede, eensklaps!
Hulle skrik!..... vir die ligomringende engeleskaar!
En dan sê die engel in Lukas 2:10-11:
“Moenie bang wees nie…
Vandag is daar vir julle die Verlosser gebore….”
Vrede is haalbaar.
Ook in vandag se wêreld van skrik.
Die Verlosser is gebore.
Met dit in gedagte moet ons in die nuwe jaar agente van vrede wees.
Ons moet so leef!
Daagliks met klein dade van liefde, oral.
Moenie bang wees om jou aan mense te waag nie.
Leef vreesloos, al is jy hoe weerloos.
Jy moet die moed hê om elke dag voluit te weés!
Leef uit die belofte van die Here in Matteus 28:20:
“En onthou: Ek is by julle al die dae,
tot die voleinding van die wêreld.”
Ernest