Teen baie Jode se deur is daar ‘n klein stukkie perkament vasgespyker.
Dit word in ‘n klein langwerpige boksie gehou.
Dit word ‘n “mezuzah” genoem.
Dit is ‘n rituele kode wat aan elkeen wat die huis inkom sê:
“Die Here woon in hierdie huis.”
Leonard Sweet sê ons moet ons hele wêreld “mezuzah”.
Dit is niks anders nie as om te sê:
“Dit is God se wêreld hierdie.”
Die hele wêreld is gekleur met God se genade.
Ons moet dit raaksien en daaruit lewe.
Leef met die belydenis oor Wié se wêreld hierdie is!
Druk ook, as God se verteenwoordiger, jou stempel daarop af.
Vier fees met die lewe.
Leonard Sweet sê God se tyd is danstyd!
Ons hou nie begrafnis nie, maar leef die opstandingslewe!
Hoekom moes Nietzsche al destyds oor Christene vra:
“As die Christelike geloof ‘n blye boodskap verkondig,
hoekom lyk hulle wat daarin glo,
dan so ongeesdriftig as hulle daaroor praat?”
Ons moenie in ons lewe die Goddelike humor verlore laat gaan nie.
Rol elke klein plesiertjie op die tong en geniet dit.
Kyk uit vir blomme en voëls,
eerder as om net nog een te word wat jou toeter uit frustrasie druk.
Jesus het tog self in Johannes 10:10 gesê:
“Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê,
en dit in oorvloed.”
Geniet die lewe en benut elke oomblik daarvan.
Help ander, om die lewe te geniet en elke oomblik daarvan te benut!
Ernest