Sonde is aansteeklik en aanleerbaar.
Die sonde by Isak en Jakob se familie is bedrog, verneukery, leuens.
Rebekka het vir Jakob leer lieg.
Jakob verneuk Isak en Laban.
Laban bedrieg weer vir Jakob.
Ragel bedrieg Laban…..
En hierdie is almal gelowiges!
In watter patrone is jy en jou familie vasgevang?
Dink mooi en eerlik daaroor.
Ragel steek afgodsbeeldjies onder die kameelsaal weg.
“Ragel het die afgodsbeeldjies gevat en onder die kameelsaal gesit,
en daarop gaan sit. Laban het haar hele tent behoorlik gefynkam,
maar niks gekry nie.” Genesis 31:34.
Niemand vermoed iets nie.
Maar watter rol speel dit in hulle verhouding met God?!
Wat plaas ons naas God, of bo God?
Wat kies ons bo God?
Ons het nie fisiese beeldjies nie,
maar wat stel ons bo God in die praktyk van ons lewe?
Ragel het verskonings sodat Laban nie die waarheid moet ontdek nie.
Het ons ook allerhande verskonings,
vir ‘n minder as toegewyde lewe aan die Here?
Jakob was verder ook doodseker van sy feite.
So seker dat hy gesê het Laban kan maar die skuldige doodmaak.
Min weet hy die skuldige is Ragel!
Sê nou net Laban het wel die beeldjies by haar ontdek!
Al is die hele wêreld seker van jou verhouding met God,
dat jy in toewyding aan Hom lewe,
is die een mens wat regtig weet net jyself.
Wat is onder jou kameelsaal?
God is ook nie Laban nie.
Hy weet wat onder my kameelsaal is.
Hy wil my vrymaak daarvan!
Ernest