‘n Zambiese leraar, Abel Siwamezi, wat gereeld by my oorgebly het,
het eenkeer terwyl ek rondhardloop vir my gesê:
“You know Ernest, you have got the watches,
we have got the time.”
Die horlosie was seker een van die Westerse wêreld se belangrikste uitvindings.
Maar dit het ons nie meer tyd gegee nie.
Jy wonder selfs of dit ons regtig gehelp het om ons tyd beter te benut.
Ons sê dikwels die tyd loop. Of, die tyd loop uit.
Of, die tyd stap aan. Of, moenie my tyd mors nie.
Vroeër jare was werktyd sonop tot sononder.
Saans was storietyd. Braaityd. Eettyd. Kuiertyd.
Deesdae is ons ‘n vier en twintig uur gemeenskap.
Die persentasie Amerikaners wat meer as een werk het,
het die afgelope vyf en twintig jaar met negentig present gestyg!
Om wat te doen?
Nie om in verhoudings te belê nie, maar in goed.
Amerikaners bestee vier keer meer tyd op inkopies as Europeërs.
Om nie eers van die geld vir goed te praat nie.
Hulle hou ook net twee weke vakansie per jaar, teenoor Europeërs se vier weke.
Werk vir geld, en geld vir goed!
Hulle siekte patroon het geskuif na 74-90% van aangemelde siektes as stres-verwant,
volgens die Amerikaanse Akademie vir Psigosomatiese Medisyne.
Depressie neem epidemiese afmetings aan,
weens die verlies aan geloof in God,
gebroke gesinne en die te vinnige lewenspas.
Dit is die bevindings van hul navorsing.
Nou is ons al ‘n klompie dae die nuwe jaar in.
Teen watter pas hardloop jy alweer.
Jy het daaroor beheer!
Moenie dat die wêreld vir jou sê jy mors tyd nie.
Die einste horlosie wat ons eintlik moet help,
hou ons nou te besig vir tyd met God en jou geliefdes.
Dr. Willie Marais het altyd gevra:
“Is jy besiger as wat God jou wil hê?”
Watter waarde voeg jou vinniger lewe regtig toe tot jou bestaan?
Ons is meer produktief, het meer geld, en leef gemakliker.
Maar ons het minder van God, en minder van hulle wat ons regtig liefhet.
Die pa wat sy kind baie min gesien het as gevolg van die kind se werk, werk werk,
het eendag sy seun gebel en gevra of hy darem na sy begrafnis sou kom.
“Natuurlik Pa!..jy weet mos”, waarop die pa geantwoord het:
“Kom ons maak ‘n ooreenkoms. Jy hoef nie daar te wees nie, regtig nie.
Ek sal jou eerder noú wil sien, as dán.”
Jy het ‘n keuse! Moenie dat enige iets of iemand jou anders oortuig nie.
Maak tyd vir die dinge waarop dit regtig aankom in jou lewe.
Jy weét wat dit is! Kies daarvoor en belê doelbewus tyd daarin.
Dit is wat Paulus bedoel as hy sê dat ons die tyd moet uitkoop.
“Wees baie versigtig hoe julle lewe:
Nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges.
Maak die beste gebruik van elke geleentheid….” Efesiërs 5:15-16.
Vir God en vir jou geliefdes……en jou medemens.
Ernest