Die ryk jongman sê in Matteus 19:20 vir Jesus dat hy al die gebooie nagekom het!
Wat moet hy nog doen?, wil hy by Jesus weet.
“…gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes,
en jy sal ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.”
Die jongman gaan bedruk weg, want hy was baie ryk.
Vers 26 sê dan oor redding :
“Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê:
“Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.”

‘n Mens vir wie geld en besittings te belangrik geword het,
het so baie dinge wat jou van die Here en jou geliefdes af laat wegdryf.
Dinge soos selfversekerdheid, selfgenoegsaamheid, onafhanklikheid,
status wat kop toe is, persoonlike mag, sukses,
‘n lewensruimte met min plek vir ander…..en vir God.

Geen wonder die dissipels is so ontsteld nie.
Mammon in plaas van God.
Hulle het seker die magteloosheid in hulleself gevoel,
toe hierdie ryk jongman, die toonbeeld van sukses, sy rug op hulle Meester draai.
Hulle het seker die suigkrag van die wêreld in die oog gekyk.
Dat die keuse vir Christus nie so maklik is nie.

Jesus kyk hulle reguit aan.
Met verwysing na die suigkrag van aardse belange.
Met verwysing na mense in die greep van materialisme.
Met verwysing na mense in die “rat race” van eiebelang.
En wat sê Hy?
Vir mense is dit onmoontlik – dat hierdie soort mense gered word.
Maar vir God is alles moontlik.

Watter hopelose gevalle sien jy in jou lewe?
Die aangeklamde boemelaar by die verkeerslig?
Is hy ‘n hopeloser geval as die selfgenoegsame,
materialistiese jongman wat denkend teen Jesus kies?
Is alle gevalle nie ewe onmoontlik nie?
Vir God is niemand onmoontlike gevalle nie!
Jesus kyk reguit na ons.
Daar is hoop en genade,
vir die mees hopelose geval in jou konteks en lewe!
Wie is die onmoontlikste bekeerling in jou verwysingsraamwerk?
Jesus kyk reguit na my.
God kan hom of haar red, sê Hy.
En ook vir mý.

Ernest