“Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging:
U sal ‘n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God.”
Psalm 51:19 sê dit.

Sommer aan die begin van die Bybel gaan offer twee broers.
Iets was verkeerd by Kain. Sy offer? Sy gesindheid?
Ons weet nie presies nie.
Dalk bring hy sy offer sonder eerbied en ontsag.
Dalk is dit nie die eersteling uit sy kudde nie.
Of hy bedoel sy offer nie opreg nie.
Dalk het bloed nie gevloei nie, soos dit moes vloei,
in heenwysing na die Lam van God wat later geoffer sou word.
Ons weet nie…..

Nou, duisende jare later, kom ons met ons offers.
Wat offer jy?
Is dit ‘n dankoffer aan God?
Hy laat ons nie in die duister oor wat Hy verlang nie.
Ons weet baie goed, uit die Woord, wat God vra:

‘n Offer van lof! Psalm 50:14.
Dat ons Hom sal eer en aanbid.
Bly dat ons Hom kan ken. Juig dat Hy ons Redder en hoop is.

‘n Offer van verootmoediging en berou. Psalm 51:19.
Skuldbelydenis. Aflegging van sonde.
Omdraai van die verkeerde pad.

Jouself as ‘n lewende offer! Romeine 12:1.
Jou hele menswees. Gedagtes. Woorde. Dade.
Hele hart, siel, verstand, en al jou krag.
Hy wil jou volkome deur sy Gees beheer.

Wil jy liewer iets anders bring?
Hy aanvaar nie alternatiewe nie,
want Jesus het juis, en reeds, Homself geoffer,
sodat jy só kán offer.

Ernest