Baie mense het ‘n groot kennis van die Woord van God.
Hulle kennis dwing eintlik gesag af, in terme van kennis.
Hulle is baie geïnteresseerd oor die Bybel en godsdiens.
Hulle geniet dit om die Bybel te bestudeer en daaroor te gesels.
Maar jy kom agter dat dit hoofsaaklik gaan oor die uitbreiding van kennis.
Daar is nie ‘n begeerte om God se wil te doen,
of in ‘n verhouding met Hom te staan nie.

 

Petrus sê ons moet ons geloof verryk met deugsaamheid en kennis.
Maar met watter doel?
2 Petrus 1:5-7 spel dit mooi uit:
“…julle geloof te verryk met deugsaamheid, en deugsaamheid met kennis,
die kennis met selfbeheersing, selfbeheersing met volharding,
die volharding met godsvrug, die godsvrug met liefde onder mekaar,
en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense.”

 

Hierdie kenmerke onderskei Christene van ander mense.
Hierdie groei na volwassenheid het tot gevolg
dat die Here Jesus persoonlik al beter geken word.
Vers 8 sê dit:
“As julle dit alles besit,en dit neem steeds toe,
sal julle met ywer en met vrug
ons Here Jesus Christus beter leer ken.”

 

Die Heilige Gees gee ons nie meer kennis net ter wille van kennis nie.
Die Gees wil ons lei om in begrip te groei,
sodat ons vir die Here kan lewe,
in persoonlike verhouding met Hom,
gekenmerk deur liefde vir Hom en ons medemens!
Die vraag is nie of jy die Bybel ken nie,
maar of jy Gód ken?

 

Ernest