Markus 4:23-24 sê:
“Elkeen wat kan hoor, moet goed luister na wat Ek sê.”
Hy het ook vir hulle gesê:
“Maak seker dat julle goed aandag gee aan wat julle van My hoor.
Hoe meer julle luister, hoe meer sal julle verstaan.
Om te hoor is een ding.
Om te luister is ‘n verdere ding.
En om dan op te tree trek die ding deur.
Mens kan ook “Elkeen wat kan hoor…” letterlik vertaal met:
“Wie ore het en kan hoor,….moet luister.”
Jesus weet goed dat alle mense ore het,
maar baie hoor nie, en luister nog minder!
Om nie eers te praat van gehoorsaam nie.
Die grootste versoeking van gelowiges,
is om dit wat hulle in die Woord van God hoor,
op ander mense toe te pas,
sonder om dit eers op hulleself van toepassing te maak.
Jesus wil hê dat ons fyn moet luister wat Hy sê,
met die oog om daarop te gaan reageer.
Ritamary Bradley het gesê:
“It is not why does God not hear me,
but why do I not hear God?”
Reg hoor is altyd gekoppel aan reg gaan doen.
Leonard Sweet praat van die “third ear”.
Dit is jou hart.
Eers wanneer ons met hierdie derde oor luister,
neem ons die wonderwerke van God waar,
en begin ons inskakel by dit wat Hy besig is om te doen.
Dan “hoor” ons Hom!
Dan luister ons, en dan doen ons.
Moenie net die Here hoor nie.
Luister mooi, en gaan doen!
Ernest