In Matteus 6:9 sê Jesus:
“Hier is ‘n voorbeeld hoe jy moet bid:
Ons Vader in die hemel.”
Wonderlik om God te kan aanspreek as Vader!
Wanneer jy bid, praat jy met God wat jou Vader is!
In die hele Ou Testament word slegs 15 keer na God verwys as Vader.
En nêrens in die Ou Testament word God direk as Vader aangespreek nie.
Wanneer Jesus God dus as “Ons Vader” aanspreek,
en boonop sy volgelinge leer om dit ook te doen,
is dit iets volkome nuuts wat Hy ons leer.
In die Evangelies vind ons dat Jesus die aanspreekvorm van “Abba” 170 keer gebruik.
In die hele Nuwe Testament word dit 245 keer gebruik.
Om God jou Vader te noem,
beteken Hy is dié Vader wat by uitnemendheid omgee.
Hy is ook “ons” Vader.
Die Vader van almal wat Jesus volg.
Merkwaardig ook dat jesus die woord “Abba” gebruik.
Dit is ‘n intieme en persoonlike aanspreekvorm van ‘n kind teenoor ‘n pa.
Dit beteken Pa, of Pappa.
In die latere gebedsliteratuur van die Jodedom,
word hierdie aanspreekvorm nêrens vir God gebruik nie.
Abba dui op God se getroue en liefdevolle sorg vir sy kinders.
‘n Volmaakte Vader wat weet wat sy kinders nodig het nog voor hul vra.
“Hemel” gaan nie net oor die “plek” waar God is nie,
maar veral oor hoé God is.
“Hemel” in Bybelse taal beskryf die goedheid van God.
Wanneer ons byvoorbeeld bid “Hemelse Vader….”,
dan bedoel ons goeie, wonderlike, liefdevolle, vriendelike, getroue, heilige…..”
Die meeste van ons weet nie altyd mooi wat en hoe om te bid nie.
Dit is so ‘n groot voorreg dat die Here Jesus ons leer bid het.
Bid gereeld die “Ons Vader…” gebed.
Praat met jou Abba Vader!
Ernest