“Laat U Naam geheilig word…”
So leer Jesus ons bid.
Die Boodskap sê in Matteus 6:9:
“Laat almal op aarde groot eerbied vir U heilige Naam hê.”

“Heilig” beteken “anders”, “apart”, “uitstaan”.
God is totaal anders as ons.
God is God, en nie ‘n mens nie.
Hierdie deel van Jesus se gebed,
beklemtoon ook dat ons nie God is nie!
Ons is die beeld van God.
Wanneer ons bid: “Laat U Naam geheilig word…”,
dan sê ons inder waarheid:
“Mag ander U raaksien in my optrede,
en U Naam eer, oor wat hulle van U raaksien in my lewe.”
Met ons optrede en met ons lewe,
heilig of ontheilig ons God se Naam.

Wanneer mense vir die rabbi’s gevra het:
“Hoe groot is God?”,
Dan het hulle geantwoord:
“Die son en sy lig, is God se skaduwee!”
God is só groot!
Jaap Zijlstra skryf só in sy gedig ”Vergewe” :
“Vergewe my……dat ek in drie letters God sê,
en dink dat ek U daarmee genoem het.”

Besef jy regtig Wié God is, as jy met Hom praat?
En tog, aan die ander kant,
die wonderlike dat ons Hom Vader kan noem.
Abba!
Vader!

Ernest