Die Boodskap sê in Matteus 6:10:
“Laat U nuwe wêreld tog gou aanbreek.”
Die ganse heelal behoort aan God!
Daarom is sy koninkryk oral hier op aarde.
Jesus leer ons in hierdie bede om te bid dat ons oë sal oopgaan,
vir God se koninkryk wat só naby is!

Ons moet oral waar ons leef, besef dat God in ons midde is!
En waar ons ookal gaan,
daar moet ons dit ook vir mense wys,
dat God reeds in hulle midde teenwoordig is!
Paulus doen juis dit in Athene in Handelinge 17:18-34.
Ons moet aan mense wys Wie die Bron en Oorsprong is,
Ons moet hulle wys wat hulle oog nog nie sien nie.
So verander hulle wêreld, en hoe hulle lewe.
Dit hou verband met Matteus 6:33:
“Stel God se koninkryk eerste.
Doen net daardie dinge wat vir Hom belangrik is.”

Leef volgens God se riglyne.
Maak jou eie koninkryk ondergeskik aan syne.

David Bosch het gesê:
“Die koninkryk kom nie,
wanneer die bevoorregtes meer bevoorreg word nie,
of wanneer die magtiges meer magtig word nie.
Nee, dit kom wanneer die onbevoorregtes bevoorreg word,
wanneer die swakkes geseën word.”
Dit gebeur wanneer jy bewustelik lewe in God se teenwoordigheid.
Stel God se koninkryk eerste!

Ernest