“Laat U wil ook op aarde geskied,
net soos in die hemel.”
Die Boodskap sê dit so in Matteus 6:10:
“Almal in die hemel doen wat U sê.
Gee dat almal hier op die aarde ook doen wat U wil hê.”

Augustinus het gebid:
“Here, gee vir my wat U van my vra,
en vra dan van my net wat U wil.”

Ons vra met hierdie gebed,
dat die aarde net soos die hemel sal word.
Dat jy sal word soos die Een aan wie jy behoort!
God se wil moet die rigting van jou lewe wees.
Matteus praat tog hier van die wil van my Vader!
Dit is die wil van my Vader wat vir my lief is.
My Vader wat net die beste vir my wil gee.

God se wil is dat ons Jesus moet volg.
Onvoorwaardelik!
Om Jesus te volg,
soos Hy aan God se wil gehoorsaam was.

Die vraag om God se wil gaan veel dieper as wat ons doen,
of as wie ons is.
Die vraag gaan oor: Wie s’n is ons?!
Dit gaan nie net oor wie ons is,
of wat ons doen nie.
Dit gaan veral ook oor aan Wie ons behoort!
Dit beteken hierdie gebed word verhoor as ons leef soos Jesus,
aan Wie ons behoort!
Dit gaan daaroor om regtig te leef wat jy bely!

Ernest