In Matteus 6:11 leer Jesus ons bid:
“Gee ons vandag ons daaglikse brood.”
Die Boodskap vertaal dit so:
“Gee ons vandag genoeg om van te leef.”

Dit gaan nie net oor brood wat ‘n mens eet as jy honger is nie.
Martin Luther sê die brood is hier simbool van alles wat jy nodig het,
om van te lewe soos, kos, drank, klere, gesondheid, verhoudings,
en nog dinge wat jy graag by die lys wil byvoeg.
Jy bely met hierdie gebed jou afhanklikheid van God.
Jy erken Hom as die enigste bron van alles wat jy nodig het om te lewe.
Jy erken dat jy alles uit sy hand ontvang.

Jesus bid ook nie in die enkelvoud nie, maar in die meervoud.
Gee “ons” vandag “ons” daaglikse brood.
Nie net ter wille van onsself nie, maar ook ter wille van ander, bid ons dit.
Luther het gesê jy kan op twee maniere van ander steel:
Of deur van ‘n ander te neem wat nie aan jou behoort nie,
of deur van ‘n ander te weerhou wat jy met hom behoort te deel.

Met hierdie gebed bid jy,
dat jyself ook vir ander sal sorg met dit wat die Here vir jou gee.
Deel ook jou “brood” met ander,
sodat hulle ook vir die Here dankie kan sê,
juis vir die “brood” waarmee Hy hulle so seën deur jou!

Ernest