Die laaste bede wat die Here ons in die Ons Vader gebed leer is:
“…laat ons nie in versoeking kom nie,
maar verlos ons van die Bose.”
Die Boodskap vertaal Matteus 6:13 so:
“Help ons om nooit te swig voor versoekings nie.
En pas ons op wanneer die duiwel ons wil verlei,
om verkeerde dinge te doen.”
Versoekings kom op almal se pad.
As jy egter versoek word, gee dadelik pad.
Bly weg van dinge of mense waar jy versoeking ervaar!
‘n Mens verdrink nie noodwendig as jy in die water val nie,
maar wel as jy daarin bly lê.
En as jy van versoeking af wegvlug,
moenie ‘n adres agterlaat nie…..
Snaaks hoe versoeking inkom,
by ‘n deur wat opsetlik oopgelaat word…
Dan bid ons ook nog verder vir bewaring van die Bose…
Ons is God se kinders.
Die duiwel kan nie maar doen wat hy wil nie.
Inteendeel, hy het geen kans nie.
Hy kan nie in dieselfde asem as ons Vader genoem word nie!
Daarom kan ons bid dat ons Vader ons verlos van die Bose.
Al is my geloof hoe sukkelend,
dit groei steeds soos ‘n mosterdsaadjie,
wanneer ek hierdie gebed bid.
En met die “Amen” aan die einde van my gebed,
plaas ek alles in God se hand.
Wat ánders sou jy wou doen, as juis dit?!
Ernest