In Romeine 12:6-8 praat die Woord oor gawes van God aan ons:
“Om ons te help om hierdie funksies te vervul,
het God vir ons elkeen besondere hemelse geskenke gegee.
Ons almal het nie dieselfde geestelike geskenke van Hom ontvang nie.
God het dit aan ons elkeen uitgedeel soos hy goedgedink het.
As jou hemelse geskenk is om God se boodskap bekend te maak,
doen net dit.
As jy oor die gawe beskik om ander mense te dien, dien hulle dan met oorgawe.
As jou hemelse geskenk is om ander te leer waaroor ons verhouding met God gaan,
doen net dit.
As jy die gawe het om ander mense te vermaan en te vertroos, doen dit.
As jou hemelse gawe is om jou besittings met ander te deel, moet dan nie suinig wees nie.”

God neem elkeen se hand en doen daarmee wat Hy wil.
Hy neem die hand van ‘n leraar en plaas dit op iemand om hom te seën.
Ander kere ‘n dokter se hand om mense te genees.
Of die hand van ‘n ouer om ‘n kind te begelei.
Hy neem die hand van iemand, en plaas dit op ander, om te vertroos.
Maar al hierdie hande word aangeraak deur die Heilige Gees.
Die Heilige Gees wat oral hande soek om te gebruik.

Steek jou hande uit na die Gees, om gebruik te word as gawes van die Gees.
Al die hemelse geskenke, die gawes van die Gees,
is daar sodat mense die goedheid en die genade van God kan ervaar.
Steek jou hande uit,
sodat die Gees deur jou mense kan aanraak….

Ernest