Min kritiek – baie omgee!

Ons kan so maklik kritiseer en so min omgee.
Paulus spreek dit aan wanneer hy met Christene praat,
wat mekaar kritiseer oor wat jy mag eet, en wat jy nie mag eet nie!

Romeine 14:13 en 15-16:
“Moenie gedurig kritiek lewer op hoe ander mense lewe nie.
Nee, maak eerder seker dat jy nie die oorsaak is
dat ander gelowiges struikel en val nie.
Moenie dit vir hulle moeilik maak om in God te glo nie.”
Paulus verduidelik dan dat ons nie ander moet aanstoot gee deur wat ons eet of drink nie,
selfs al het ons self geen probleem daarmee in ons verhouding met God nie….
Die Christelike liefde vra dat ons hulle in ag neem, selfs al is dit nie vir ons ‘n probleem nie.
Paulus sê dan verder:
“Onthou dat daardie mense…..ook Christene is.
Christus het ook vir hulle gesterf.
Waarom wil jy hulle lewens dan verwoes deur iets wat gladnie belangrik is nie?....”

Ons weet dikwels so min van mekaar, maar kritiseer mekaar so maklik!
Ons ken nie die ander persoon se omstandighede, seer, of geskiedenis nie.
Ons weet nie hoe hulle voel en wat met hulle gebeur het nie.

Philo van Alexandrië het eeue terug gesê:
“Wees gaaf, want almal wat jy ontmoet, is in ‘n stryd betrokke.”
Dit sal ons minder kritiek laat lewer, en meer laat omgee!
Soek altyd die goeie in ander.
Almal is gemaak na die beeld van God!
Bid eerder vir iemand.
Daarin gee God ons leiding en perspektief.
Dan gee ons meer om, en ons is minder krities.
Jy kan nie iemand vir wie jy bid, bly veroordeel nie.

Wil jy regtig God se pad hierin stap?
Die vraag is dan:
Hoeveel bid jy vir hulle wat jy kritiseer?

Gee meer om, en hou op kritiseer.

Ernest