Wanneer liefde en verhoudings in ‘n mens se lewe skeefloop,
Is dit dikwels die seerste seer wat daar is…..

Sinead O’Connor sing aangrypend hieroor as sy liefde verloor.
Sy sing “It’s been seven hours and fifteen days since you took your love away.”
Sy tel letterlik die ure en dae van seer en verlies…
Sy probeer die leegheid vul met allerhande dinge,
maar niks help nie.
Uiteindelik sing sy “Nothing compares 2 u.”
‘n Treffende lied.

Carl Gustav Jung het al gesê:
“Daar is soveel nagte as dae, en die een is so lank soos die ander.
Selfs ‘n gelukkige lewe kan nie sonder ‘n maat van donkerte wees nie.
Die woord “gelukkig” sal sy betekenis verloor,
as dit nie gebalanseer word met hartseer nie…”

Verlore liefde of verhoudings maak intens seer.
Almal van ons verloor iewers ‘n geliefde, of liefde, of ‘n verhouding.
Net die Here kan jou deur dit dra.
Sy liefde kan jy nooit verloor nie.
Mense kan ons in die steek laat,
of ons kan geliefdes of verhoudings langs die pad verloor.
Dit is hoe die lewe is.
Maar dit is seker:
Jesus is elke oomblik daarvan by jou en in jou.
Hy sal jou nooit in die steek laat nie.

Daarom sê Romeine 15:4 dat die Skrif ons standvastigheid en bemoediging gee.
Daarom kan ons in die grootste seer steeds vol hoop wees, sê die vers.
Vers 5 sê God is die Bron van ons bemoediging, in die seer.
So groot as wat God is, so groot is ons hoop!
So groot as wat God is, so groot is die bemoediging wat ons kan ontvang,
want God is die Bron daarvan!

Ernest