Ons jaag so baie dinge en spandeer so baie energie op dinge,
wat nie regtig saakmaak nie.
In die proses mis ons die belangrikste dinge in die lewe.
En ons lewe dikwels in angs en vrees dat ons sekere dinge nie sal bereik nie.
Howard Hughes is die voorbeeld van so ‘n persoon.
Hy het reeds as kind gedroom om die grootste flieks te maak.
Hy wou die vinnigste en grootste vliegtuie bou, en vlieg.
Hy wou een van die rykste mense in die wêreld word.
En hy het dit alles reggekry!
Teen die middel van die twintigste eeu was hy ‘n hoogs suksesvolle besigheidsman.
Hy was ‘n fliekmaker, ‘n vliegtuigontwerper,en ‘n vlieënier.
Hy was die eienaar van Hughes Aircraft, RKO Studios, en Trans World Airlines!
En tog, ten spyte van dit alles, het hy gedurig in vrees geleef.
Ironies genoeg, veral die vrees vir kieme!
Mense wat sy lewe nagevors het,
sê dit was as gevolg van ‘n gebrek aan liefde in sy lewe.
Hy het geen liefde in sy kinderlewe geken nie.
Hy het verwerp en ongeliefd gevoel.
Dit het hom gedurig in vrees laat lewe teenoor almal.
Hy het niemand vertrou nie,
en nie een van die vroue in sy lewe wou met hom trou nie.
Marianne Williamson sê in “A Return to Love”:
“Love is the essential reality and our purpose on earth.
To be consciously aware of it, to experience love in ourselves and others,
is the meaning of life.
Meaning does not lie in things.
Meaning lies in us.”
Sonder liefde in jou lewe kan al jou aardse drome waar word, soos met Howard Hughes,
maar jou lewe bly steeds vir jou sinneloos en leeg, en selfs vol vrees!
Daarom is dit so belangrik om 1 Johannes 4:18 te onthou:
“Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees….
en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie.”
Kan jy volmaakte liefde hê?
Nee, dit is die liefde van God in jou, en deur jou!
Dit verdryf alle vrees.
God se liefde maak jou vry van enige vrees vir die lewe.
Sy liefde in jou, en deur jou, gee jou sin in die lewe.
Ernest