Baie mense maak gou die sitkamer oppervlakkig aan die kant
wanneer hulle ‘n klop aan die voordeur hoor.
Dan nooi hulle die mense na ‘n paar oomblikke in.
Dikwels wil ons ook so maak wanneer die Here aan die deur van ons harte klop.
Ons wil eers self ‘n paar dinge in ons lewens probeer regmaak,
voordat ons Hom innooi.
Daar word ook van ‘n kunstenaar vertel wat ‘n skildery van die verlore seun wou maak.
Hy vra toe ‘n verwaarloosde boemelaar om die volgende dag vir hom te kom poseer.
Toe die man opdaag was hy skoongewas en geskeer.
Die kunstenaar moes toe vir hom sê dat hy hom nie meer kon gebruik nie!
Die Here wil hê dat ons na Hom toe kom net soos ons is.
Ons moet erken dat ons sondaars is, en nie ons eie verlossing kan bewerk nie.
Dit is die enigste manier waarop ons waarlik vergifnis kan ontvang.
Daarom sê Matteus 5:3:
“Geseënd is hulle wat weet hoe afhanklik hulle van God is,
want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”
Die Skrifgeleerdes en Fariseërs het gedink hulle stiptelike onderhouding van die wet kan hulle red.
Hulle het gedink die Here sal tevrede wees met hulle,
want hulle het hulleself behoorlik “skoongemaak”.
Hulle kla dan juis wanneer Jesus saam met sondaars beweeg.
Jesus spreek hulle selfregverdiging sterk aan.
Hulle moes hulle sonde bely.
Ons kan nie onsself regverdig voor die Here nie.
Kom na die Here toe net soos jy is!
Jy kan niks doen om jou saak reg te stel nie.
Hy wil jou reinig en jou vergewe.
Net Hy kan dit doen.
Ernest