Ons lees in Matteus 5:4:
“Geseënd is die wat treur, want hulle sal vertroos word.”
Meestal dink ons dat dit te doen het met verlies,
hartseer oor ‘n geliefde, hartseer oor siekte of dood of gebroke verhoudings.
En dit het ook daarmee te doen.
Ons moet egter ook oor ons sonde nadink, en daaroor hartseer wees.
Treur omdat ons so dikwels teen God se wil lewe.
Hartseer wees oor die “seer” wat ons aan God doen wat ons so liefhet!
Nadat die bekende prediker Robert Murray McCheyne oorlede is,
het ‘n predikant sy gemeente in Dundee in Skotland besoek.
Hy wou hoor wat die prediker se sukses was.
Die koster het hom na die evangelis se stoel geneem en gesê
hy het dikwels daar gesit en huil oor sy eie en die gemeente se sonde.
Hy het hom daarna na die preekstoel geneem en gesê
die evangelis het dikwels daar na God se wil gaan soek, en getreur oor hul dorp se sonde.
In kontras daarmee moet ons erken dat ons dikwels gewoon ongevoelig is oor ons eie sonde.
Ons emosies verhard selfs as gevolg van ons eie sonde.
Ons dink nie aan die skade wat ons mense aanrig,
en hoeveel ons die Here “seermaak” met ons sonde nie.
Wanneer laas het jy waarlik getreur voor die Here oor jou sonde,
en oor ander mense se sonde?
Die kruis van die Here wys vir ons hoeveel skade die sonde aanrig.
Ons kan ons in die Here se vergifnes verheug,
wanneer ons ook waarlik ernstig onsself voor Hom verootmoedig,
met harte wat treur oor die sonde wat ons doen.
Raak stil voor die Here, en bely ook jou sonde en tekortkominge…..
Hy wil jou omhels met sy seën en sy vergifnis.
Hy wil jou ook daarin troos.
“Geseënd is die wat treur, want hulle sal vertroos word.”
Ernest