“Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.”
So sê Jesus in Matteus 5:5.
Baie mense dink om sagmoedig te wees,
beteken om swak en willoos te wees.
Vêr daarvandaan!
Die teenoorgestelde is waar.
Die sagmoedigheid waarvan die Bybel praat is kragtig.
Mens kan eintlik sê:
“Sterk om sag en soepel te wees.”
Ons sien ware sagmoedigheid die heel beste in Jesus self.
Hy was onderdanig aan die wil van God, en het dit nooit teengestaan nie.
Maar Hy het die wil van God beslis en met oorgawe uitgeleef.
Sy vertroue op sy Vader het Hom juis in staat gestel om met deernis,
moed en selfopoffering op te tree.
Selfs in die moeilikste omstandighede.
Sagmoedigheid verdra beledigings.
Dit kap nie onbeheersd terug nie.
Dit dink voordat dit praat of handel.
Dit loop op die spoor van God se wil.
Niks is so kragtig soos ware sagmoedigheid nie,
en niks kan so sagmoedig wees, soos ware krag nie.
Thomas Merton het gesê sagmoedigheid is nie swakheid nie,
maar krag wat onder leisels gehou word.
Geen wonder nie dat Jesus self die sagmoediges geseënd noem.
Hulle besit ‘n vermoë wat baie sterk mense,
en harde mense, hulle voor bewonder en beny….
Groot krag wat onder beheer is.
Onder beheer van die Heilige Gees!
Ernest