In Handelinge 20:24 sê Paulus:
“As ek maar net my lewenstaak kan voltooi,
en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het,
kan klaar maak:
dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.”
Ons het tog almal die taak gekry om God se genade uit te leef.
Dit is ons aardse roeping om draers en verkondigers van God se genade te wees.
Paulus sê nou dat hy nie wil opgee daarmee nie.
Hy wil hierdie lewenstaak voltooi.
Hy wil sy dienswerk vir die Here klaarmaak.
Natuurlik sal ons nooit klaarkry daarmee solank ons lewe nie!
Dit gaan vir Paulus oor volharding.
Hy wil enduit met sy lewensroeping vir die Here besig wees.
Baie Christene leef asof hulle in ‘n doolhof is.
Asof hulle nie regtig rigting het, en weet waarnatoe hulle op pad is nie.
Paulus leef nie soos iemand in ‘n doolhof nie.
Hy weet waarvoor hy hier is vir die Here.
Hy is ‘n draer en ‘n verkondiger van God se genade.
Dit is wat elkeen van ons ook is, as kinders van die Here.
Jesus het ook hiermee volhard toe Hy op aarde was.
In die moeilikste omstandighede van lewe en dood volhard Hy as genadedraer.
Daarom kon Hy aan die kruis uitroep: “Dit is volbring!”
Ons onthou hoe Hy op ‘n punt vir Petrus gevra het:
“Die werk wat die Vader My gegee het om te doen,
sal Ek dit dan nie doen nie?”
Soos Paulus, weet ons ook wat ons behoort te doen!
Doen dit!
Doen wat jy behoort te doen.
Wees ‘n draer en verkondiger van God se genade.
Ernest