Paulus sê in 1 Korintiërs 9:21-22:
“As ek tussen Jode is, wil ek soos een van hulle optree
sodat ek hulle kan oorhaal om Christene te word.
As hulle stiptelik volgens hulle wet leef,
leef ek ook so tussen hulle, al hoef ek nie.
As ek dit doen sal ek ‘n kans kry om hulle te oortuig om ook in Jesus te glo.
Vir ander mense wat nie eens weet van God se wet nie,
maak ek of ek ook nie so ‘n wet het om na te luister nie.
Dit beteken egter nie dat ek doen wat ek wil nie,
want ek moet gehoorsaam wees aan God se wet.
As ek tussen mense is wie se geloof nie sterk is nie,
en wat nog met allerhande probleme sukkel,
probeer ek my gedurig in hulle posisie indink
sodat ek hulle kan help om beter Christene te word.”

Hierdie woorde van Paulus is werklik baie belangrik.
Ons is so geneig om mense te veroordeel,
eerder as om in hulle skoene te gaan staan,
en hulle te probeer verstaan.
Die oomblik as hulle nie met ons saamstem nie,
Veral wat geloofsake betref,
dan skuif ons hulle eenkant toe,
of veroordeel hulle,
of kyk neer op hulle “mindere” insig,
of dink hulle is doodgewoon kleingelowig.

Paulus sê nie met bogenoemde woorde dat jy jou geloof moet prysgee nie.
Hy sê dat jy die groter prentjie moet raaksien.
Moenie op mense neerkyk nie.
Help mense op.
Help hulle nader aan die Here.
Hoe kry jy dit reg?
Deur in hulle skoene te gaan staan,
om meer van hulle te verstaan.
Dink jouself in die ander persoon se posisie in.
Verstaan ook sy opregtheid in sy oortuiging.

Ghandi, wat self ‘n Hindoe is,
sê vir die oproerige Hindoes wat oorlog teen die Moslems wil maak:
“Ek is ‘n Moslem, ek is ‘n Hindoe, ek is ‘n Christen en ek is ‘n Jood.”
Daarmee gee hy ook nie sy geloof prys nie, maar sê hy soos Paulus,
dat jy in die ander persoon se skoene moet gaan staan.

Dit is regtig die enigste plek van waar jy mense opreg kan liefhê.

Ernest