Efesiërs 4:25 sê:
“Moenie vir mekaar lieg nie.
Wees eerlik met mekaar,
want ons speel mos almal saam in dieselfde span van God.”
Dit is belangrik dat die Woord in dieselfde konteks in vers 27 sê
dat ‘n mens nie die duiwel kans moet gee om jou vas te trek nie!

Om vir mekaar te lieg bly om een of ander rede in die mode.
Ons besef egter nie naastenby hoeveel skade ons daarmee aanrig nie.
In ander mense se lewens.
In die koninkryk van God.
En in ons eie lewens!
Eric Hoffer het gesê ons lieg die hardste as ons vir onsself lieg!

In Scott Peck se boek, People of the Lie,
wys hy dat leuens in die kern lê van alle boosheid.
Om vir mekaar te lieg is om vir jouself te lieg.
En ten diepste is dit om vir God te lieg.

Washington Allston het gesê:
“’n Enkele leuen is ‘n raar verskynsel,
want leuens teel gewoonlik aan soos brulpaddas.
Jy het skaars een vertel, of nog een word nodig;
en dié verskyn met ‘n klomp kleintjies op sy rug.”

Spreuke 12:19 sê:
“Die waarheid hou vir altyd;
die leuen net ‘n oomblik.”

Daarom is kinders van die Here mense van die waarheid.
“..die waarheid maak jou vry.” Johannes 8:32.
Kies om altyd die waarheid te praat.

Ernest