As jy kwaad word…..
“As jy vir iemand kwaad word,
Moet jy niks doen waaroor God skaam sal kry nie.
Moet ook nie gaan slaap terwyl jy nog vir iemand kwaad is nie.”
Efesiërs 4:26
Ook saam met dit moet ons vers 27 lees:
“Moenie die duiwel vatkans gee nie.”
Let op; hier staan nie in vers 26 “moenie kwaad word nie”.
Hier staan: “As jy kwaad word, moenie sondig nie.”
Dit is voor die hand liggend:
Ons kan nie, en moet ook nie dié menslike emosie ontken nie.
Dit gaan nie oor kwaad word nie,
maar eerder oor hoé jy kwaad word,
waároor jy kwaad word,
en hoé lank jy kwaad bly.”
Daar is inderdaad dinge waarvoor ons kwaad moet word,
soos byvoorbeeld onreg, leuens, ensovoorts.
The Message vertaal dit so;
“Go ahead and be angry.
You do well to be angry,
but don’t use your anger as fuel for revenge.
And don’t stay angry.
Don’t go to bed angry.”
Onthou ook dat kwaad word en humeurig wees niks met mekaar te doen het nie.
Daarom sê vers 31 juis ons moet nie “opvlieënd wees en woedend word nie.”
Jou woedende reaksie op iets doen dikwels baie meer kwaad,
as dit wat jou in die eerste plek kwaad gemaak het.
Beheer jou woede, anders sal dit jou tot jou nadeel beheer!
Moenie die son laat sak oor jou woede nie.
Koel af, vergewe, en maak vrede.
Ernest