Verskillende dae vir verskillende belangrike dinge.
Dit help om ons te herinner wat kosbaar is.
Moedersdag, vadersdag, valentynsdag….
Selfs ‘n biddag vir dit, en ‘n biddag vir dat.
Sal ons nie elke dag leef vir dit wat so waardevol is nie!
En net so gereeld daarvoor bid nie.
Blomme, komplimente, opregte liefde.
Nie eers wag vir sekere dae nie,
of dit eers op die graf skryf, of plaas nie.
Valentysliefde laat ons dink aan Hoogliedliefde!
Hooglied 2:1 wat die vrou laat sê:
“Ek is ‘n affodil van Saron,‘n lelie van die laagtes.”
Die Nuwe Lewende Vertaling sê:
“Ek is ‘n irisblom uit Saron,‘n lelie van die veld.” The Living Bible : “I am the rose of Sharon,the lily of the valley.”
So praat die Hoogliedvrou oor haarself.
Getroud of ongetroud, sewentien of sewentig,
dit is die Hoogliedvrou.
Die Hoogliedvrou blom vir God!
‘n Blom vol geur van liefde.
‘n Blom wat die evangelie in aksie is.
Sy kan haar geliefde ware sin en betekenis gee.
Daarom kan hy antwoord met vers 2:
“Soos ‘n lelie tussen dorings,
so is my liefling tussen die meisies.”
Hiermee sê die Hoogliedman dat sy meisie/vrou,
vir hom anders is as die ander.
Sy meisie/vrou leef hom nader na die Here toe.
Hy ontdek die blom van lewe in haar.
Sy versprei ‘n aangename geur, soos 2 Korintiërs 2:14 sê:
“Deur ons versprei God die kennis van Christus,
oral soos ‘n aangename geur.”
En andersom….
Sy kan ook van vers 3 af oor hom getuig en hoe hy is:
“Soos ‘n appelboom tussen wilde bome,
so is die man wat ek liefhet…..”
Hy leef ook nie wild nie.
Hy dra ook vrug, die vrug van die Gees. Galasiërs 5:22-23.
Mag ons so vir mekaar wees, in die Here se Naam.
Blomme wat blom en die geur van lewe versprei.
Bome wat vrug dra.
Die vrug van die Gees!
Ernest