Wanneer ons in moeilike situasies is,
Dan gebruik ons maklik die frase:
“Alles sal weer regkom”, of, “ons hoop maar vir die beste.”

Jeremia het ten opsigte van sy volk geweet alles gaan nie maar regkom nie.
Ons lees in Jeremia 8:20:
“Die oes is af, die somer is verby, en ons is nog nie gered nie.”
Sy volk het die geleentheid gehad om hulle tot God te bekeer.
Hulle het egter doelbewus hulle rug op God gedraai.
Dit is duidelik dat God hulle die gevolge van hul keuse laat dra.
Jeremia hoor sy volk roep en kla.
Dit is ‘n gefolterde volk wat tevergeefs wag op die Here.
Hy moet hulle uit die ballingskap kom red.
Maar God swyg.
Die volk kla: “Die oes is af, die somer is verby, en ons is nog nie gered nie.”
Jeremia huil saam met sy volk:
“My volk se wonde is ook my wonde, ek is in die rou, deur angs oorweldig.”
Jeremia weet hoe ontrou sy volk aan die Here is.
Jeremia vereenselwig hom nogtans met sy volk,
en dra saam met hulle aan die las.

Wat van ons in vandag se konteks, in ons eie land se situasie?
Ons sien dieselfde toneel voor ons.
Mense wat hulle rug op God draai.
Mense wat op pad is na ewige ballingskap!
Weg van die aangesig van die Here.
Maak dit vir ons saak?
Veroordeel ons hulle?
Of vereenselwig ons onsself met hulle om hulle by te staan?
Is ons harte ook, soos die van Jeremia, verwond oor hulle?
Tree ons profeties op en praat met hulle?

Hoeveel oeste het al in jou leeftyd afgekom?
Hoeveel somers is al verby in jou leeftyd?
En hoeveel mense is nog steeds nie in jou tyd gered nie?
Gaan doen moeite voor die volgende oestyd.
Gaan doen moeite voor die volgende somer.
Gaan soos Jeremia na die mense toe.
Gaan oes hulle.
Dit is jou profetiese roeping as kind van die Here.
So sal die Groot Oesdag van God vir ons ‘n blye geleentheid wees.

Ernest