“Moet my nie arm maak of ryk nie,
gee my net die kos wat ek nodig het,
sodat ek nie te veel het en U verloën en sê:
“Wie is die Here?” nie,
en sodat ek nie arm word en steel,
en my God se Naam oneer aandoen nie.”
Spreuke 30:8-9.
Die Israeliete trek deur die woestyn,
en daar is net genoeg water, net genoeg manna,
niemand onder die broodlyn nie,
en niemand dra onnodig goed saam nie.
In eenvoud en afhanklikheid loop hulle saam met God.
In Handelinge val die klem ook op eenvoud in die eerste gemeentes.
“…met blydskap en in alle eenvoud…” sê Handelinge 2:46.
Geen uithang geleenthede nie.
Geen kompetisie nie.
Almal vrymoedig en in eenvoud.
Eenvoud trek mense.
Daarom sê vers 47 dat die Here elke dag mense wat gered is,
by die gemeente gevoeg het.
Eenvoud intimideer nie mense nie.
Die spreukeskrywer vra daarom ook vir eenvoud.
Nie te veel nie, en nie te min nie.
Eenvoud was ook die wyse waarop die Here Jesus geleef het.
Sy boodskappe was so eenvoudig dat selfs kinders dit verstaan.
Sy werkswyse eenvoudig en doeltreffend:
Bid, gehoorsaam, doen, reik uit na eenvoudiges….
In Goddelike eenvoud het Jesus alle mense liefgehad,
gehelp, bevry, en genees.
Kom ons streef na eenvoud in karakter,
in maniere,
in lewensstyl,
in verhoudings,
in alle dinge.
Henry Wadsworth Longfellow het gesê
die hoogste vorm van voortreflikheid is eenvoud!
Minder is regtig meer!
Ernest