Roeping en gehoorsaamheid
“Die Here het vir Abram gesê: “Trek uit jou land uit,
weg van jou mense en jou familie af,
na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.” Genesis 12:1.
God se roeping van Abram bly een van die mees merkwaardige roepingsverhale.
Hy word in die antieke tyd geroep uit ‘n land vol afgodsbeelde.
Josua 24:2 sê:
“Lank gelede het julle voorvaders – onder hulle was Tera, vader van Abram en Nahor –
anderkant die Eufraat gewoon en hulle het ander gode gedien.”
As kind was Abram se hele lewe aan afgodsdiens blootgestel.
Nou roep God, wat vir hom totaal onbekend is,
hom en beveel hom om afstand te doen van sy land, sy mense, en sy familie!
Dit was alles wat belangrik was vir ‘n veeboer!
En die plek waarheen hy moet trek is omtrent 600 km van Ur af.
Abram moet alles prysgee.
En die aangrypende is, hy het dit gedoen.
Hy kry ook nog verdere opdragte van God:
“Jy moet tot ‘n seën wees.”
Hy pas nou in binne God se groter plan met baie mense.
Hy word ‘n gestuurde wat God se seën moet dra.
Verder hoor hy dat God sê:
“Ek sal jou ‘n groot nasie maak.”
Abram het nie eers geweet dat dit God is wat kinders gee nie!
Hy kom uit ‘n konteks van vrugbaarheidsgodinne.
Hy hoor nog ‘n belofte:
“Ek sal seën wie jou seën.”
Dit beteken God is deurgaans by hom teenwoordig in die verloop van sy lewe.
Dit is ewe nuut vir Abram.
Hy is gewoond aan vêraf gode.
Die nabyheid van God in sy lewe het hy nie geken nie.
Ontdek opnuut die radikale veranderinge in jou lewe,
wat gepaard gaan met God se roeping van jou.
Sy beloftes.
Sy trou in jou lewe.
Sy teenwoordigheid in jou lewe.
En gehoorsaam dan soos Abram, en “trek!”
Gaan saam met God!
Ernest