Het jy al die ervaring gehad dat die een brander na die ander
jou omslaan. Jy kry net nie jou voete nie en jy kry naderhand nie
meer asem nie. Jy stoei en stoei om net weer kop bo water te kry.
Soms doen die lewe dit met jou. In 1 Petrus 1:6-7 beskryf Die Boodskap
dit so: “Dit kan gebeur dat daar in julle alledaagse lewe dinge gebeur
wat nie vir julle lekker is nie en wat julle geloof op allerhande maniere
toets. Moenie dat dit julle van stryk bring nie.”

In die harde tye van die lewe vra ons ook baie gou: Waarom?
Dan verduidelik Petrus dit met die treffende beeld:
“...Kom ons neem goud as voorbeeld. Geld wat van goud gemaak is,
hou natuurlik nie vir altyd nie. Tog doen mense moeite om dit in ‘n
baie warm vuur te sit om so al die vuiligheid wat in die goud vassit,
weg te smelt. So is dit met die geloof ook. Dit moet getoets en suiwer
gemaak word. As julle geloof deur die moeilikheid heen sterk bly,
sal daar by die wederkoms van Jesus gesê word watter mooi voorbeeld
julle met julle geloof gestel het. Almal sal daaroor praat.”

God weet wanneer ons hulp nodig het. God kom gee weer sin in ons
lewe met hierdie boodskap uit sy Woord en so kry ons moed om weer
op te staan en die lewe in die oë te kyk. God is deurgaans besig met ons.
God is nooit te besig vir ons nie. God sal ons nooit alleen los nie.

God suiwer ons. Ongelukkig is daar hardnekkige vuiligheid wat bly klou
en meer intense suiwering vra om ons te kry waar God ons wil hê.
Daarom is daar dikwels baie hitte nodig. Ons klou dikwels self aan hierdie
vuilheid vas. God sal aanhou met die suiwerings proses. Hy het ons te lief
om ons te laat soos ons is. In hierdie proses moet ons die oog op hom gerig
hou en nie in selfbejammering in ‘n hoekie gaan lê nie. Laat toe dat God jou
suiwer en jou geloof versterk. Hou nog stywer aan God se beloftes vas.
Weet en beleef dit dat God besig is met jou, en stel jouself tot sy beskikking,
om sy Goddelike doel met jou te bereik.

Ernest