Reeds in die Ou Testament het die profete al geweet God het
‘n reddingsplan. Hulle sou egter nooit kon dink hoe God dit in
detail sou doen nie. Dit is eintlik onmoontlik om te dink dat God
so laag sou buig om sy eie Seun in ‘n menslike liggaam na die aarde
te stuur. Dit is nog meer ondenkbaar dat Hy aan ‘n kruis sou sterf en
op so ‘n manier al die mens se sonde kom uitwis. En dit alles net uit
liefde en genade! Wat ons wel weet is dat die profete geweet het
daar kom ‘n reddingsplan.

1 Petrus 1:11 in Die Boodskap sê dit so: “Die Gees van Christus wat
ook aan hulle aan die werk was, het hulle daarmee gehelp. Die Gees
het vooraf duidelik gesê dat Christus sal moet ly, maar dat God daarna
aan Hom groot eer sal bewys.” Hierdie vooruitkyk na Jesus se koms het
hulle baie opgewonde gemaak. In swaar tye was dit omtrent die enigste
boodskap waaraan hulle kon vashou. Almal wat die profete se boodskap
geglo het, het daaraan vasgehou. Daar was selfs ‘n roering tussen die engele!
Vers 12: “Hierdie boodskap is so wonderlik dat selfs die engele opgewonde
is om te sien wat alles gaan gebeur.” Jesus se koms na die aarde, sy sterwe
aan die kruis, en sy opstanding uit die dood was ‘n astronomiese Goddelike
daad!

Ons kan eintlik nie regtig die grootheid daarvan bedink nie.
Ons raak eenvoudig te blasé daaroor... Ons vergeet maklik dat baie lank voor
Jesus se koms priesters en profete al hieroor gepraat het. Ons besef nie dat
dit al ongeveer 2022 jaar terug gebeur het, en dat dit die wêreld op sy kop
gekeer het nie. Die wêreld sou net nooit weer dieselfde gewees het nie.
Hierdie radikale daad van God het selfs die jaartal van voor af laat begin!
Jesus se geboorte, die jaar nul. Nou 2022 jaar later, steeds die telling van
die jaartal na aanleiding van sy koms na die wêreld! Elke keer as jy die jaartal
neerskryf verwys jy na Jesus se koms en loop op die aarde! Dit is enorm groot!

Nuwe nuus vir ons? Nee. Dit is nie nuwe nuus vir ons nie, en daarom raak ons
maklik blasé daaroor. Ou nuus... daarom is die opgewondenheid van hierdie
reddings-boodskap nou nie juis in ons lewens sigbaar nie. Nuwe bekeerlinge
kan nie hieroor stil bly nie, en kan nie hulle opgewondenheid daaroor onderdruk
nie! En ons wat dit nou al weet en “ken”... ons wat al “lank” glo, hoe raak dit ons
nou nog? Hoe opgewonde is ons nog daaroor en hoe dra ons dit nog oor in
getuienis en entoesiasme? Kan dit wees dat mense wat saam met ons leef dit
eintlik nie in ons lewe ervaar nie? Dat Jesus ons splinternuut gemaak het en
dat ons bons van nuwe lewe!

Besef weer die grootheid van die koms van Jesus, sy kruis, sy opstanding,
en die nuwe lewe vir jou! Die jaartal vertel elke dag nog van die koms van Jesus,
2022 jaar terug! Vertel jou lewe ook nog elke dag daarvan? Maak nie saak wat
jou omstandighede is nie, lééf weer die waarheid en die werklikheid van die
verlossing in jou lewe uit! Jy dra die boodskap wat lewe gee!
Leef met opgewondenheid oor die genade-geskenk wat jy ontvang het!
Dan sal ander ook hulle harte en lewe daarvoor oopmaak!

Ernest