Voor die koms van Jesus, sy kruisdood en opstanding uit die dood,
was die mens in ‘n geestelike tronk, sê Petrus in i Petrus 1:18:
“...Vroeër was julle, soos julle voorouers, mense wat in ‘n geestelike
tronk gesit het. Soos mense vasgevang agter tralies het julle ‘n doellose
en leë lewe gelei.” God gryp in liefde en genade in en kom red die mens
uit die sonde dood. Petrus beskryf dit verder in Die Boodskap in vers 19:
“Toe het Jesus die boete kom betaal wat die geestelike tronkdeure vir julle
laat oopswaai het. Julle kon weer regtig begin lewe. Hy het nie die boete
met goud of sakke vol geld betaal nie, want sulke goed sal later hulle
waarde verloor. Nee, Hy het met sy eie bloed betaal, en wat ‘n groot
prys was dit nie!”
Goddank vir God wat ons uit die gevangenis kom red het sodat ons nou
vry kan leef en die ware lewe kan leef! Dit is egter nie ‘n lewe sonder
teenspoed en uitdagings en swaarkry in hierdie wêreld nie. Daarvan word
Christene nie gevrywaar nie. Dit is wel ‘n lewe van gemoedsrus en vrede
wat alle verstand te bowe gaan, sê Filippense 4. Niks kan ons uit God se
hand ruk nie. Ons is vrygemaak in Christus.
Wanneer ons dit regtig besef kan ons nie ongeroer rondstaan nie. Ons kan
nie gewoon aangaan met die lewe asof ons nog in die tronk is nie, of asof
daar nie ander is wat nog smag na hierdie bevryding nie. Die vryheid wat
ons ontvang het moet eenvoudig in dankbaarheid oorgaan. Dit kan nie
anders nie. Wanneer dit nie jou lewe omkeer nie, verstaan jy nie regtig
dat jy vry is nie, of jy leef nie in dankbaarheid vir jou verlossing in Christus
nie. Dalk is mense wel dankbaar, maar weet nie hoe om dit uit te leef in
moeilike omstandighede nie. God is regtig goed vir ons. Ons kan nie
voortgaan sonder om ons dankbaarheid uit te leef nie. God is betrokke
by jou. Jy kan honderd persent op Hom vertrou om jou te help om voluit
vir Hom jou dankbaarheid uit te leef.
Petrus beklemtoon dit met vers 21: “Julle kan op God vertrou, omdat julle
gesien het wat Hy vir Jesus gedoen het. Hy het Jesus uit die dood opgewek
en aan Hom eer en baie hoë status gegee. Net God kan dit doen. Julle kan
God dus vertrou. Julle kan maar seker weet dat Hy dit alles iewers in die
toekoms ook met julle sal doen.
Dit is ‘n kragtige belofte vir ons. Druk die lewe swaar en jy kry nie reg om jou
dankbaarheid uit te leef nie? Weet dat God jou so hoog ag en jou so liefhet
dat Hy jou in sy hande hou. Hy sal die dinge so laat meewerk dat jy vry kan kom
en God alles sal word in jou lewe. Rig jou lewe doelbewus op dankbaarheid.
Gaan soek plekke waar jy doelbewus jou dankbaarheid kan uitleef. Hoekom?
Omdat jy nie anders kan as om dankbaar te begin leef nie. Die dankbaarheid
binne in jou vir die feit dat jy geestelik vrygemaak is om vir God te leef,
sal jou dring.
Ernest