Suksesvolle kind van God? Is daar so iets soos ‘n suksesvolle kind
van God? Ons het ‘n aangebore begeerte om van alles wat ons doen
‘n sukses te maak. Die vraag is nou: Wat beteken dit om ‘n suksesvolle
kind van God te wees? Die eerste antwoord is seker om God ten volle
te vertrou en Jesus as enigste Saligmaker te aanvaar.
Iemand het gesê dat die sukses as kind van God ten volle begin realiseer
as ander mense dit daagliks in jou lewe sien, en dit aan hulle eie lyf voel,
dat jy ‘n verteenwoordiger van God in hierdie wêreld is, wat die beeld
van Jesus weerkaats. ‘n Mondvol.

Die vraag of jy ‘n suksesvolle kind van God is, is doelbewus gevra om ons
net aan die dink te sit. Petrus gee riglyne in 1 Petrus 1:22 oor hoe om vir
die Here te leef: “Julle moet lojaal wees teenoor mekaar en mekaar help
waar julle ook al kan. Julle luister nou nie meer na verkeerde dinge nie.
Julle lewe mos nou graag soos God van julle verwag en volgens wat vir
Hom reg is. Hy verwag dat julle in liefde lojaal teenoor mekaar sal wees,
reg om mekaar te help en te dien wanneer dit ook al nodig mag wees.
Julle moenie allerhande bymotiewe hê nie, maar moet opreg wees.”
Praktiese riglyne oor hoe om as kind van God te leef teenoor mekaar.

Sukses? Doen iets vir mekaar. Moenie toelaat dat iets tussen jou en jou
medegelowige kom staan nie. Bly lojaal aan mekaar. Op ‘n manier word
ons motiewe getoets in ons verhouding met ons medemens. Doen ek dit
om gesien te word? Of doen ek dit omdat dit die regte ding is m te doen?
Of doen ek dit omdat ek regtig uit my hart uit wil help? Ons breek so maklik
ons koppe oor die vraag: Wat verwag God van my? God se wil vir my vat
grond daar waar ek elke dag teenoor ander mense leef. Naby soos in my
gesin. En ook verder en wyer tot met elkeen wat my pad kruis.

Dit is presies wat Jesus op aarde kom doen het. Hy het gewone mense
kom dien. Hy was sy dissipels se voete en stuur sy dissipels om mekaar
en ander se voete te gaan was. Hy maak siekes gesond. Hy gee die wat
honger is brood en vis om te eet. Hy sê dat jy jou kledingstuk moet gee
vir die wat geklee moet word. Hy het selfs vir die wat op pad was na die
ewige dood die kans gegee om ook die ewige lewe binne te gaan.

Hy gee uiteindelik sy eie lewe vir ander. Die grootste daad is om jouself
as lewende en heilige offer aan God te gee en ander met jou hele lewe
te dien. Wees regtig lief vir mense om jou en dien hulle met die Here se
onvoorwaardelike liefde. Jy doen dit nie om “suksesvol” te wees of enige
iets daarmee te bereik nie, maar doodgewoon omdat jy nie anders kan nie,
as gevolg van die Here se liefde in jou. Die liefde van Christus dring jou!

Ernest