Die feit dat God ons sondes keer op keer vergewe, beteken nie
dat ons kan aanhou sonde doen nie. God sien ons hart raak en
Hy gaan nie toelaat dat ons sy vergifnis misbruik nie.

God se genade is nie goedkoop nie, maar het die heel duurste prys
van sy eie Seun aan die kruis gekos. 1 Petrus 2:16 stel dit so:
“God het julle vry mense gemaak. Julle moet dit egter nie as verskoning
gebruik om te leef net soos julle wil nie, reg of verkeerd. Nee, julle vryheid
kan nooit van julle mense maak wat nie in alles na God luister en nie maak
soos Hy wil hê nie”.

Ja, ons gaan foute maak. Soms aanhoudend. Selfs sonder bedoeling.
Dit kan egter nie ‘n verskoning wees om nie heilig te lewe nie. Heilig beteken
aan God toegewy en afgesonder vir Hom. Ons moet nie ons nuwe vryheid
waarvan bogenoemde teks praat misbruik nie. Ons moet alles inspan om te
hoor wat God sê, dit te gehoorsaam en dit te doen.

Dit sal vra dat ons tyd saam met God in sy Woord moet deurbring sodat ons
sy wil beter en beter leer ken. Dit klink voor die hand liggend. Ons doen dit
egter dikwels te min! Ons moet God se stem hoor, en nie maar op grond van
ons eie goeddunke handel nie. Ons moet ‘n brandende begeerte hê om God
se wil te doen. Wanneer ons tyd saam met God deurbring, wanneer ons
doelbewus luister na die Heilige Gees se leiding, begin ons al hoe meer van
God se wil sien, verstaan en doen.

God het ‘n wonderlike droom vir jou. God vra sommer reeds in die volgende
vers 17 van ons: “Behandel almal met wie julle te doen kry beleefd en gemanierd.
Teenoor julle mede-Christene moet julle liefdevol en lojaal wees. Erken en eer God
as die groot en magtige Heerser.”

Begin daarmee in die nouste konteks waarin jy lewe. Die mense hier naby jou.
En dan laat jy toe dat die Heilige Gees dit laat uitkring na alle mense met wie jy te
doen kry. Probeer regtig hard om God se wil te doen deur die krag van die Gees
wat in jou werksaam is! Saai God se liefde by ander mense. Wees die minste,
sonder om minderwaardig te wees. Verheerlik so God se Naam. Dan sal mense nie
meer vir jóú sien nie, maar vir die Here wat in jou leef. So sal al die eer uiteindelik
aan God toekom omdat dit sy lig is wat deur jou skyn, en nie jyself wat in die
kollig staan nie.

Moenie God se genade en jou vryheid in Christus misbruik nie!

Ernest