Wanneer jy deel van die koninklike gesin is, word daar van jou verwag
om op ‘n sekere manier te leef en op te tree. Ons lees gereeld daarvan
in tydskrifte hoe koninklikes “aanvaarbaar” of “onaanvaarbaar” opgetree
het in terme van hulle adellikheid. Jy kan nie as koninklike maar net doen
wat jy wil nie.
Wanneer ons deel word van die Christen-familie, en kinders is van God,
ons Vader in die hemel, dan geld dit ook vir ons. Ons is Konings-kinders!
Wanneer ons die Here, die Koning van alle konings volg en dien, moet daar
duidelike groot veranderings in ons lewe wees. Die eenvoudigste manier
om dit te stel is dat ons nou soos Jesus moet leef! Doen soos Jesus dit
gedoen het. 1 Petrus 2:22 word in Die Boodskap so vertaal:
“As Christene word daar van julle verwag om soos Jesus te leef. Hy het
vir julle ‘n voorbeeld gestel hoe julle moet leef. Leef soos Hy geleef het.”
Ons weet dit is nie maklik uitvoerbaar nie, want ons is nie van nature so
as mense nie. Ons is nie so gebore nie. Ons kom eintlik vanuit ‘n sondige
huis... ons voorouers en hulle voorouers sover terug soos Adam en Eva,
is almal in sonde ontvang en gebore.
Ons weet dit goed dat ons van nature op onsself gerig is en selfsugtig
onsself dien en selfs “aanbid”. So maklik word die mens sy eie god...
Ons kies ons eie begeertes eerste. Jesus het egter vir ons kom wys wat
dit beteken om God bo alles en almal lief te hê, en ons naaste soos onsself.
Om vir die Here en ter wille van ander te leef. Jesus het dit vir ons aan die
kruis bewys. Vers 22 sê verder: “...Onthou dan, Hy het vir julle gely en nooit
iets gedoen waarvan God nie gehou het nie.” Ons doen baie dinge wat vir
God onaanvaarbaar is. Ons tree dikwels net mooi die teenoorgestelde op as
wat Jesus dit sou doen. Ons kan maar mooi gaan kyk. Alles verwys terug na
ons eie begeertes en belange. Ons is nie maklik “die minste nie”.
Die probleem is óók dat ons nie genoeg van Jesus se optrede ken en weet nie.
Ons doen nie genoeg moeite om ons in te grawe en te leer en te verstaan hoe
Jesus geleef het nie, en wat Hy geleer het nie. Ons kan dit glad nie as verskoning
gebruik dat ons “nie geweet het nie”. Ons elkeen kry die opdrag:
“Leef soos Jesus geleef het”. Daarom moet ons met ‘n passie sy lewe volg en
bestudeer en gaan leef soos Hy geleef het. Ons moet ook bid dat God vir ons
die wysheid gee om te luister na die Heilige Gees en Hom nie te weerstaan nie.
Die Gees lei ons deur die Woord!
Kyk net na vers 23 oor hoe Jesus geleef het: “Hy het mense wat lelike dinge vir
Hom gesê het, nie terug beledig nie. Toe hulle Hom seergemaak het, het Hy nie
gesê dat Hy hulle gaan terugkry nie. Hy was tevrede om alles in God se hande
te los. God sal daarvoor sorg dat wat moet gebeur, sal gebeur.” Hierdie woorde
slaan ons tussen die oë. Ons tree maklik uit vergelding op. Ons maak ons eie
planne omdat ons nie op God vertrou nie, en nie op Hom wag nie.
Kom ons hoor weer die Woord van God in vers 22: “As Christene word daar
van julle verwag om soos Jesus te leef. Hy het vir julle ‘n voorbeeld gestel hoe
julle moet leef. Leef soos Hy geleef het.”
Ernest