Ons sê dikwels dat ons grense moet oorsteek vir die Here.
Daarmee bedoel ons dat ons uit ons gemaksones moet kom.
Ons moet waag en wen vir die Here.
Ons kan nie net gemaklik terugsit om te ontvang, en om gedien te word nie.
Nee, steek self grense oor, en gaan dien in die Naam van die Here.
Mense steek egter dikwels verkeerde grense oor.
Grense waaroor die Here nie wil hê dat ons moet gaan nie.
So sê die Here deur die profeet Jeremia vir sy volk hoe verstandeloos hulle raak.
Hulle is desperaat besig om geld, en mag, en genot, en plesier, na te jaag.
God maak nie meer vir hulle saak nie.
Hulle jaag ‘n duisend en een dinge, en mis die belangrikste van alles!
In Jeremia 2:23 sê die Here sy volk is soos ‘n kameelkoei wat bul soek,
‘n kameelkoei wat kruis en dwars rondhardloop!
Wat ‘n beeld om te gebruik!
Hulle steek grense oor wat God oneer aandoen.
Soos die kameelkoei wat bul soek,
stu God se volk voort na wie weet waar!
Hulle minag God, en bring ‘n vloek oor hulleself.
God kyk teleurgesteld neer op hierdie jaagtog van sy volk en sê:
“Toe Ek jou geplant het, was jy ‘n goeie wingerdstok, opreg gekweek,
maar hoe het jy nie verander in onkruid, in ‘n wilde wingerdstok nie!” Jer.2:21.
Die beeld is eintlik skokkend eerlik en suiwer:
Dit is nie meer die bul wat die kameelkoei soek nie,
maar die kameelkoei wat kruis en dwars agter die bul aan hardloop.
Dit is nie die wêreld wat agter ons aan hardloop nie,
maar ons wat agter die wêreld aan hardloop.
Dit is ons wat so kruis en dwars rondhardloop,
om wêreldse dinge te geniet, en bymekaar te maak,
ten koste van ons verhouding met God!
Die Here plant my as ‘n wingerdstok, wat opreg gekweek is!
Is ek nie ook besig om in onkruid te verander nie? Jeremia 2:21.
Besin weer oor waarmee jy besig is, wat jy jaag, waarnatoe jy op pad is.
Ten koste van Wie, en wat….
Steek die regte grense oor, vir God!
Ernest