Wêreldse skuld kan swaar op ons druk. Ons maak skuld en kan later
baie moeilik finansieel oorleef. Ons lê nagte wakker en bekommer oor
hoe ons dit gaan delg. Dit groei en groei net. Inflasie druk dit op en op.
Baie van ons wil te lekker leef, en bly skuld maak... wat ons uiteindelik
kan “doodmaak”. Dit wurg die lewe uit ons uit. Gestel iemand kom sê
dan vir jou hy het al jou skuld betaal. Sommer so uit die bloute, as ‘n
daad van goedheid en barmhartigheid. Hy het jou jammer gekry en hy
het miljoene. Hy voel dit nie eers nie. Dink net hoe bevrydend dit vir
jou sal wees. Hoe dankbaar jy sal wees. Hoe verlig. Jy kan weer begin
“leef” sonder daaglikse bekommernis van skuldeisers en dreigbriewe.
Jy kan selfs weer “kos op die tafel sit”... Vreugde, vreugde en nogmaals
vreugde. Dankbaarheid. Vrede... alles net oor geld...

Die grootste skuld wat daar egter bestaan, by verre die grootste,
die onvergelykbare grootste skuld, is ons sondeskuld... Ons geestelike skuld.
Ons kan dit op geen manier self betaal nie. Al is ons biljoenêrs. Geen ander
mens kan dit vir ons betaal nie.
Net Een kon en Hy het!! Dit het al klaar met ons gebeur! 1 Petrus 2:24 sê:
“Jesus het aan die kruis gesterf. Dit het Hy gedoen om die skuld uit die weg
te ruim wat julle voor God opgegaar het deur al die verkeerde dinge wat julle
gedoen het”.
Het jy soveel dankbaarheid hieroor as wat jy sou hê oor aardse skuld?
Het jy net die vaagste idee van hóéveel geestelike skuld jy verlos word?
Skuld wat jou ewige dood sou beteken!
Al jou skuld is betaal!! Keer op keer kan ek na Jesus gaan en opreg vra vir
vergifnis. Opreg omdat ek sóós Hý wil leef! Ek kan met vrymoedigheid dankbaar
en vry voor God leef! Ek kan elke dag die vers ook so verstaan: “Dit het Hy gedoen
om die skuld uit die weg te ruim wat julle voor God opgaar deur al die verkeerde
dinge wat julle doen.” Let op, teenswoordige tyd: “...wat julle voor God opgaar...”
Ook dit wat ons nou verkeerd leef is, in Christus en deur Christus, aan die kruis betaal.
God doen alles! Elke keer kom God in genade na my toe. Petrus beklemtoon dit met
vers 24: “...Om dit so te stel: omdat Jesus vir julle gely het, hoef julle nie self vir julle
sonde voor God te betaal nie.”
Daar is eintlik nie regtig woorde hiervoor nie... ons kan net uitroep: Halleluja! Amen!

Ernest