Hoe kan ons net voortleef asof ons nié die nuwe lewe in Christus
deelagtig geword het nie? Hoe kan ons bly voortgaan op die ou manier
van lewe as ons besef watter wonderlike dade God vir ons en met ons
gedoen het? Het ons regtig só gewoond geraak aan die wonderlike en
kragtige boodskap van God dat dit net nie meer ‘n impak op ons lewe het nie?
1 Petrus 2:24: “Hy wil egter graag hê dat julle reg sal leef soos God van julle
verwag en dat julle nie verkeerde dinge sal doen nie.” Dít is wat God wil hê!
Doen God se wil deurlopend in jou lewe. Altyd. Oral. Wanneer ons sensitief is vir
die stem van die Heilige Gees, sal ons gou agterkom wat God se wil is en wat nié
God se wil is nie. Nadat ons ook intens geworstel het met kwessies in ons lewe,
raak ons volwasse in die geloof en leer ons meer en meer wat om in elke situasie
te doen en wat om nie te doen nie.
Alles begin egter by ‘n doelbewuste wilsbesluit. Dit begin by ‘n keuse wat jy self
persoonlik moet maak. Dit is nie iets wat iemand anders namens jou kan besluit
en uitvoer nie. Jy moet besluit: Ek wil God se wil vir my lewe leef, en dit sluit in
dat ek nie teen God se wil dinge sal doen nie! Om die een of ander rede is dit so
dat God jou laat besef wanneer jy verkeerde dinge doen. Jy weet dit sommer!
Natuurlik maak ons almal oordeelsfoute. Ons maak soms die verkeerde keuse al
het ons opreg bedoel. Die wonderlike is dat ons dit opreg voor God kan bely.
Hy verstaan dit die beste van almal as dit ‘n opregte bedoeling was maar ‘n fout
in die uitvoering daarvan. Ons ontvang vergifnis wanneer ons dit bely. Hoewel ons
self niks bydra tot die genade-geskenk van vergifnis nie, kan ons diep lesse hieruit
leer in ons navolging van God se wil en so nie weer dieselfde foute maak nie
Petrus gee nog meer raad om ‘n dankbare lewe te leef: “... Nee, julle hoef slegs
voluit vir God te leef.” Dit is God se wil! En dit is al! Ons sukkel so maklik hiermee.
Ons dink ons moet die een of ander swaar las dra as ons vir God lewe. Ons dink aan
al die teenstand in die wêreld. Ons dink ook dikwels ons moet steeds iets verdien.
Ons hoef nie slim te wees nie. Ons hoef nie geleerd te wees nie. Ons het nie opleiding
daarvoor nodig nie. Dit is ‘n baie eenvoudige waarheid wat regtig in elke situasie
uitgeleef kan word. Al wat ons nodig het is ‘n sensitiwiteit vir die stem en leiding van
die Heilige Gees.
Ons kan nie deeltydse Christene wees nie. By die huis sus, en by die werk so.
Op ‘n Sondag sus, en in die week so. By ons huis sus, en by ons vriende so.
Gebruik eenvoudig al jou energie in jou lewe om elke dag voluit God se wil uit te leef!
Leef in ‘n lewende verhouding met Hom as Persoon. Doelbewus. Altyd. Oral.
Ernest