Die eie ek is die grootste oorsaak van die sonde.
Dit is ék wat kies, wat ék wil kies. Petrus wil ons op die regte pad
help hiermee, in 1 Petrus 3:8: “Vir julle almal kom dit hierop neer:
Moenie dwarstrekkerig wees en elkeen sy eie kop volg nie. Wees
sensitief vir mekaar se gevoelens. Soos jy jou eie broer of suster liefhet,
moet julle mekaar liefhê. Gee vir mekaar om en moenie te veel van jouself
dink ten koste van ander nie.” Baie goeie praktiese raad hierdie, in terme van
ons eie ek en ons groot ego. Die eerste deel van die vers sê dat die kans baie
groot is dat jy sal dwars trek as jy jou eie kop volg. Hoekom?
Die eie ek het die eie ek se behoeftes in die oog. So eenvoudig soos dit.
So doen jy maklik wat vir jóú belangrik is en nie noodwendig wat reg is nie.
Ons kies die meeste van die kere net vir ons eie belang.
Ons ego is so prominent in ons lewe.

Hoe kan ons dit doelbewus verander? Wel, draai die aandag en belange vir
‘n slag weg van jouself af. Petrus sê duidelik: “...Wees sensitief vir mekaar
se gevoelens.” En dan verder hierdie belangrike woorde: “Gee vir mekaar om...”
Hoeveel mense het ons al in die grond in getrap sonder dat ons dit eers weet.
Ons weet dit nie omdat ons eenvoudig nie vir hulle omgee nie. “Ek het nie
geweet nie...” is dikwels ‘n baie swak verskoning. Besin telkens oor wat jy gaan
sê en wat jy gaan doen ten opsigte van enige iemand wat jou pad kruis.
Besin regtig doelbewus oor wat jy gaan sê. Besin oor wat jy wil doen.
Plaas jouself doelbewus in die ander persoon se skoene en dink mooi daaroor:
Hoe gaan hierdie persoon my woorde verstaan en absorbeer? Hoe gaan hulle
gevoelens lyk as my woorde soos ‘n sweep daardeur geklap het?

Praat en doen altyd ter wille van die ander. Hoor die mens voor jou. Waardeer
die mens voor jou. Hoor die persoon se behoeftes. Praat en doen regtig ter wille
van die ander persoon en nie ter wille van jouself nie. Dan sal ons soveel nader kom
aan God se wil, deur my, vir daardie mens. Moenie ‘n filter wees nie. Wees ‘n oop
en skoon kanaal waardeur God se genade kan vloei na elke mens wat jou pad kruis,
elke dag, oral.

Ernest