Petrus begelei ons verder oor hoe om God se wil prakties
uit te leef in hierdie wêreld. Die uitdaging is juis om God se wil
prakties uit te leef in ons dag tot dag lewe en nie net daaroor
gesprekke te voer nie. Petrus maak dit so prakties dat ons dit kan
laat grondvat in ons daaglikse lewe, tot eer van God.
In 1 Petrus 3:8-11 vind ons ‘n stukkie goud van praktiese riglyne.
Vers 10-11: “Wie van die lewe hou en die beste daaruit wil haal,
moet ‘n wag voor sy mond sit. Hy moet nie lelik praat of hom met
allerhande liegstories ophou nie. Hy moet wegbly van alles wat
verkeerd is en elke kans aangryp om die goeie te doen. Bewaar
altyd die vrede; dit moet julle lewenstyl wees, want die Here sorg
vir die mense wat reg leef en Hy luister graag wanneer hulle met
Hom in gebed praat. Die Here dink niks van mense wat hulle
heeltyd met verkeerde dinge ophou nie”.
Let op die inleiding van vers 10: “Wie van die lewe hou en die beste
daaruit wil haal...” Die raad is eenvoudig: Wil jy ‘n wonderlike lewe hê?
Hou dan jou tong in toom! So haal jy die beste uit die lewe! Ons weet
hoe vernietigend ons met die tong kan wees. Ons verrinneweer mense
daarmee. Hoeveel mense word nie deur die tong van ander mense
verwoes nie! Dit is seker een van die heel belangrikste dinge in die lewe:
kry beheer oor jou tong. Dit is jou verantwoordelikheid voor die Here
om dit te doen. Maak baie seker wat jy wil sê voordat jy dit sê. Maak
seker dat dit nie verkeerd verstaan kan word en groot skade aanrig in
‘n ander se lewe nie. Om te sê dat jy nie bedoel het wat jy gesê het nie
neem moeilik die skade weg. Jy bly verantwoordelik vir elke woord wat
by jou mond uitkom en vir die impak daarvan. Praat die waarheid.
Los wit leuens. Dit is juis wit leuens wat dikwels skade maak. ‘n Wit
leuen is nie die volle waarheid nie.
Vers 11 sê dat jy van alles moet wegbly wat verkeerd is wanneer jy
van die lewe hou en die beste daaruit wil haal. Maar dit sê ook dat jy
positief en aktief elke kans moet aangryp om die goeie te doen.
Wanneer jy elke kans aangryp om goed te doen, doen jy die regte goed
en is daar nie tyd vir verkeerde dinge nie.
Let op: gebed kom ook ter sprake. Die Here sorg vir mense wat reg leef
en “...Hy luister graag wanneer hulle met Hom in gebed praat.”
Praat aanmekaar met God! Hy luister graag! Laat dit ook deel word
van jou lewenstyl. God hou daarvan.
Ernest