Wanneer ons die Here onwrikbaar dien en werklik ‘n verskil in
die lewe wil maak, gaan mense ons uitvra daaroor. Mense gaan
sien dat ons kan glimlag al kry ons hoe swaar. Dat ons dankbaar en
blymoedig is, al is dit hoe moeilik. Ons het al self geworstel met die
doel van die lewe, en baie mense worstel daarmee. Baie mense sukkel
om die volheid van die lewe te geniet. Mense soek na gemoedsrus en
‘n anker. Daarom sal baie mense vra na Christene se getuienis.
Hulle wonder wat is die geheim.

Die 1 Petrus 3:15-16 gedeelte uit God se Woord gee wonderlike raad:
“Julle moet eerder wys dat daar in julle lewe net vir Een plek is, naamlik
vir Christus, die Here. As iemand julle uitvra oor die dinge wat God julle
beloof het en waarna julle so uitsien, gryp die kans aan. Vertel hulle daarvan.
Doen dit mooi, met eerbied vir God, sonder om windmakerig te wees. Sorg
dat julle altyd doen wat julle weet reg is.”

Daar loop baie stukkende mense in ons wêreld rond. Mense wat regtig
baie-baie swaarkry. Mense verloor hoop en uitsig. Die hardheid van die lewe
is dikwels sigbaar. Ons kan nie maar stilbly en ons lewe op ons eie leef nie.
Hoe kan ons!? Mense sien dat ons ook swaarkry, maar dat ons leef met hoop,
en visie, en dankbaarheid, en selfs vreugde ten spyte van! Hulle wil weet hoe
dit dan moontlik is? Ons is dalk die enigste by wie hulle vrymoedigheid het
om te vra. Daarom moet ons die kans aangryp. Petrus roep ons op om dit te
doen! En hy sê ook hoé. Ons het nie geleerdheid nodig nie. Ons hoef nie al
die antwoorde paraat te hê nie. Wees net eenvoudig sensitief vir die vrae
wat ons kan beantwoord. Ons sien ook partykeer vrae en ‘n hulproep
sonder woorde! Gee net om! Mense sien ons opregtheid, al maak ons
ook baie foute. God sal sorg. Hy sal deur jou sorg. Petrus sê ons moet
elke kans aangryp. Lees weer bogenoemde teksgedeelte...

Ernest