Petrus bemoedig ons keer op keer deur te verwys na Jesus wat ook
swaargekry het. Wanneer jy jou daaraan verbind om in Jesus se voetspore
te volg, moet jy weet jy gaan teenstand kry. Die Evangelie is nie maar net ‘n
wonderlike reistog nie. Dit is nie ‘n pad waarop drome heeltyd waar word nie.
Ons Koning moes ly en ons ly ook dikwels ter wille van Hom en die koninkryk.

Maar nou weet ons dat dit wat ons soms moet verduur is dikwels ook vir ons
net te swaar en net te seer, en dan verstaan ons dit nie. Petrus sê ons moet
Jesus voor oë hou. In 1 Petrus 4:1-2 beskryf Die Boodskap vertaling dit so:
“Jesus het as mens hier op aarde ook baie gely. As julle swaarkry moet julle
net soos Hy maak. Sy voorbeeld moet julle sterk maak. Iemand wat so swaarkry
as mens, hou hom nie meer met die sonde op nie. Sy ingesteldheid in die lewe
is anders. Hy hardloop nie die heeltyd agter sy eie neus aan en doen net wat vir
Hom as mens lekker is nie. Nee, al wat ‘n Christen graag die res van sy lewe wil
doen, is dit wat God – nie mense nie – gelukkig sal maak.”

Wanneer ons swaarkry weet Jesus presies waardeer ons gaan. Niemand weet
dit beter as Hy of is meer intens daarvan bewus as Hy nie, nie eers jyself nie.
Hyself het hier op aarde verskriklik swaar gely. Meer wat ons as mense ooit kan
begryp. Hy het immers die sondelas van die ganse mensdom op Hom geneem
aan die kruis. Daarom kan ons verseker in Jesus se voetspore volg in ons mees
intense swaarkry. Ons kan by Hom leer om nie die swaar toe te laat om ons op
die grond vas te druk nie. Ons kan by Jesus leer om in die grootste trane en
seerkry steeds die Naam van God te eer. Al het Jesus gesmeek dat die beker
van lyding by Hom moes verbygaan, moes Hy dit steeds drink. Hy het getrou
gebly in die diepste seer van alle seer.

Hoe het Jesus dit reggekry? Deur doelbewus weg te beur van sonde en versoeking.
Dink ook aan die versoekinge van die Bose in die woestyn. Wanneer Jesus honger is
bied die satan brood aan. Satan val jou swakste skakel aan. Maar Jesus weerstaan
elke versoeking binne sy lyding op aarde. Maak daarom ‘n punt daarvan om soos Jesus
teen die sonde op te staan. Ons kan nie aangaan met die verkeerde dinge in ons lewe
nie. God gebruik dikwels die swaar in ons lewe om verkeerde dinge uit te werk uit ons
lewe uit.

Jesus se voorbeeld in lyding hou ook nie hier op nie. Dit vertel ons wat ons moet doen.
Ons moet doen wat God wil. Dit moet ons najaag met alles in ons. So maak die swaar
ook vir ons baie meer sin. Want ons besef dit gaan nie net oor onsself nie, maar God se
wil , die getuienis wat uitkring tot sy eer, en ons groei in geloof en geestelike volwassenheid.

Ernest