Ons kan baie besig wees as gelowiges. Die vraag is waarmee ons besig is?
Met hoeveel direkte dade is ons besig om die koninkryk van God uit te brei?
Met hoeveel indirekte dade brei ons die Koninkryk uit? En met hoeveel dinge
is ons besig wat niks te doen het met die uitbreiding van God se Koninkryk nie?
Waarskynlik sal die vierde van bogenoemde 4 vrae die meeste van ons aandag
in praktyk opneem. Ons is dikwels besig om tyd te mors met dinge wat niks bydra
tot die uitbreiding van God se Koninkryk, of ons of ander mense se groei nie.

Petrus praat nou reguit hieroor. In 1Petrus 4:2 sê hy: “...Kyk net hoe ‘n groot deel
van julle lewe het julle reeds gemors deur julle op te hou met die dinge van die
mense wat God nie ken nie.” Dan noem Petrus voorbeelde in vers 3:
“Ek praat nou van daardie tyd toe julle alle ordentlikheid en reëls oorboord
gegooi en net gedoen het waarvoor julle lus was. Julle het julle papdronk gedrink
en wilde sekspartytjies gehou. Wat ‘n afskuwelike afgodiese lewe is dit nie!”

Hoeveel keer moet God nou nog met ons praat oor afskuwelike denke, woorde
en dade waarmee ons besig bly? God het ons tog geskep met een hoofdoel,
en dit draai verseker nie om onsself nie. Nee, alles moet gaan om die verheerliking
van God. Daarom moet ons leef, woon en werk, en speel, in sy Koninkryk!
Dit beteken dat ons God se Koninkryk oral en in alles laat kom deur hoe ons vir
Hom leef. Ons is moontlik besig om ons roeping hierin totaal mis te kyk of te
onderskat. Ja, ons is inderdaad God se verteenwoordigers, oral waar ons leef.
Gaan besin opnuut hieroor en wees wie God jou bedoel om te wees!

Ernest