Mense vra dikwels: Hoe kan ek weet wat my roeping is?
Ons het verskillende gawes en dink prakties daaroor.
Die belangrike is dat God my ook daarin sal lei as ek met
die regte ingesteldheid die lewe aanpak. Die liefde moet
my vertrekpunt wees in alles in die lewe wat ek aanpak en
waarmee ek besig is. Sonder hierdie gawe kan geen ander
gawe regtig gebeur soos God dit vir my bedoel nie. As die
liefde nie die wegspringblok vir alles is nie, is die kanse goed
dat ons in die verkeerde rigting gaan wegtrek.
In 1 Petrus 4:8 sê die Woord: “Daar is niks so belangrik as dat
julle mekaar liefhet asof julle eie lewe daarvan afhang nie.”
Natuurlik maak liefde alleen nie die kosmandjie vol nie.
Dit hou ook nie almal gelukkig nie. Maar liefde moet in al my
dade sigbaar wees.
Vers 8 sê verder: “Daar is niks so belangrik as dat julle mekaar
liefhet asof julle eie lewe daarvan afhang nie.” Wanneer jy so leef,
in wat ookal jy mee besig is vir die Here, is jy besig om sy roeping
vir jou te vervul.
Vers 9 gee nog ekstra raad: “As iemand by jou opdaag en jou hulp
nodig het, help hom met ‘n glimlag sonder om onderlangs te kla
of te brom.”
Wanneer jy oor jou roeping vir die Here nadink is dit nie in die
eerste plek die vraag in watter beroep jy staan nie. Die belangrike
is hoé jy dit doen wat jy doen? Is dit tot eer van God? Roeping lê
vir die Here in die eerste plek in hierdie wêreld daarin dat jy Hom
verteenwoordig is alles waarmee jy besig is, by alle mense, in alle
omstandighede. Gaan leef so jou roeping vir die Here uit,
waar deure oopgaan, en ook waar deure toegaan,
en ander weer oopgaan... God is daar...Hy is daar oral,
waar jy leef.
Ernest