Dikwels vra mense wat nou eintlik hulle talente is.
Sommige weet wat hulle gawes is. Ander soek. Ander wonder
of God ooit vir hulle ‘n gawe gegee het. Maar dit is nie so nie.
Elkeen het ‘n gawe of gawes van God ontvang. 1 Petrus 4:10 sê:
“God het aan elkeen van julle uitsonderlike talente gegee.”
Nie sommer net talente nie. Maar uitsonderlike talente. Hoekom?
Omdat ons so oulik is? Nee. Kyk wat sê vers 10 verder: “...Nee,
dit is God wat eintlik so goed vir julle is. Daarom moet julle julle
talente gebruik om ander te help.” Vers 10 sê dan verder:
“...Moenie dink dit is julle wat so goed is nie. Nee, dit is God wat
eintlik so goed vir julle is.” Elkeen van ons het verseker talente
omdat God so goed is. Daarom is dit ook uitsonderlike talente,
want... God gee dit!

God wil deur die Heilige Gees die talent, die gawe in jou wakker
maak sodat jy Hom daarmee moet dien. Vra God om deur die Heilige
Gees in jou te werk en jou wakker te maak vir die Godgegewe talente
wat jy het. Dikwels is dit so voor die hand liggend. Dit is gewoonlik
daardie dinge wat vanself kom, wat jy geniet om te doen en mense
en die Here mee te dien. Dit is asof dit nie jou energie opgebruik nie.
En wanneer dit wel baie energie gebruik, geniet jy dit in elk geval so
baie dat jy nie omgee nie!

Al wat God van jou vra is om jou gawes nou tot sy beskikking te stel
om Hom en jou medemens daarmee te dien. Dit is waarvoor jy gawes
ontvang het. Gebruik jou talente tot sy eer! Besef jy dit? Dat God deur
jou gawes en talente ander mense wil help?
Dikwels is dit God se reddingsplan, deur jou, vir ander mense!
God is nie van jou gawes afhanklik daarvoor nie. Maar Hy wil deur
jou werk! Jou gawes moet funksioneer waar jy leef en werk en speel.
Jy hoef nie noodwendig sendingwerk in ‘n ver land te gaan doen nie.

Kom ons staan in dankbaarheid op en gaan dien met ons gawes.
Vra die Heilige Gees om jou hierin te help. God gee aan jou uitsonderlike
gawes en wil daarmee, deur jou, die wêreld verander ter wille van sy
koninkryk en die eer van sy Naam. Uitsonderlik... want Hy gee dit vir jou!

Ernest