Christene gaan ook een of ander tyd deur swaarkry.
Hulle kry dikwels baie swaar. Hulle moet dikwels styf vashou aan
die veiligheidsgordel van hulle geloof. Ons moet regtig aanhou glo
dat God met ons besig is. Petrus skryf dit in sy brief in 1 Petrus 4:12-13:
“My liewe vriende, as dit so swaar met julle gaan dat julle dit byna nie
meer kan hou nie, moenie sommer daaruit aflei dat julle godsdiens
daarmee heen is nie. Christene moet ook swaarkry. Dink maar aan Jesus.
Hy het baie swaargekry. Julle moet eerder bly en opgewonde wees dat
julle soos Hy is, al is dit ook dat julle soos Hy kan swaarkry omdat julle
Christene is. Dink net hoe bly julle gaan wees wanneer Hy weer kom
en almal dan sien hoe groot en belangrik Hy regtig is.”

Jesus het van die begin af swaar gekry, nie net aan die kruis nie.
Daarom is Hy die een wat die beste met jou swaar kan identifiseer.
Daarom moet jy ook jou swaar na Hom toe neem! Hy sal dit nie altyd
wegneem nie, want ons het dit nodig om gesuiwer en gevorm te word.
Dit laat ons ontslae raak van die dinge wat nie by ons pas nie. Swaar is
deel van Christen wees. Ons dra kruis saam met Christus. Ons spartel
dikwels sodat ons die volle prentjie uit die oog verloor. Wanneer ons
besef dat God daarmee besig is om ons te vorm, dan begin ons geestelik
meer volwasse optree. In vers 14 staan daar: “As mense lelik met julle
praat omdat julle Jesus sin is, moet julle bly wees. Dit is vir julle ‘n bewys
dat God se Gees, wat groot en belangrik is, in julle lewens aan die werk
is en dat mense dit raaksien.”

Hoewel dit nie maklik is nie, is dit geestelik volwasse om in die swaar
vir God te prys, want dan besef ons wat werklik aan die gebeur is.
Loof God omdat Hy deurgaans met jou en in jou aan die werk is.
In maklike en in die moeilikste van omstandighede. Ons kan weet dat
ons sterker daaruit sal kom. Beur voort en weet dat God by jou is!
Verheerlik so sy Naam.

Ernest