Wat gaan gebeur as ons voor God se hemeltroon moet gaan staan?
Baie mense is onseker hieroor, en baie ander vrees die dag. Daar is
ook miljoene mense wat glad nie glo dat so iets gaan gebeur nie
omdat hulle eenvoudig nie in God glo nie. Baie mense sien regtig uit
na die dag, om volledig in God se heerlikheid en teenwoordigheid te
lewe tot in ewigheid!
Petrus sien daardie dag so in 1 Petrus 4:17-18: “Dit is nou die tyd vir God
om soos ‘n regter te sê wat Hy van elkeen dink. Hy gaan begin met die
gelowiges wat sy kinders is. As selfs ons voor God moet gaan staan soos
voor ‘n regter in die hof, hoe vreesaanjaend en verskriklik sal dit nie vir dié
mense wees wat hulle hele lewe lank die rug vir God en sy goeie boodskap
gedraai het nie. As die mense wat volgens God se wil geleef het beswaarlik
gered word, wat wag dan nie op die mense wat God misken en sleg geleef
het nie.”
Feit is: Almal gaan voor God, die Regter, staan. Niemand sal hierby verbykom
nie. Daar, voor God se troon, gaan dit nie tel wie jy geken het nie, watter invloed
jy in die wêreld gehad het nie, hoeveel geld jy het nie, of selfs hoeveel geld jy vir
die kerk gegee het nie! Hy gaan ‘n uitspraak oor ons léwe gee. Hoe lééf jy?
Ons het nou die geleentheid om te kies en waarlik te leef! Die ware lewe.
Die ewige lewe nou reeds. Die lewe in oorvloed wat Jesus vir ons bedoel. Ons kan
nie ons plek in die hemel inwerk nie. Jesus alleen doen dit vir ons. Ons moet in
Jesus Christus glo as persoonlike Verlosser, en Hom volg as Here van jou lewe.
Ons moet in sy voetspore leef. Ons moet meer en meer soos Hy leef. Ons moet
daarom uit dankbaarheid vir wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het sélf ook
ander mense gaan dien. Ons moet die mense wat swaarkry gaan soek en hulle
laste dra. Ons moet die mense wat nie glo in God nie gaan soek en hulle bedien
met die boodskap van Jesus tot verlossing vir elkeen wat dit glo. Ons moet van
die rusbank af opstaan waar ons soveel tyd mors en aktief die Here gaan
verteenwoordig en verkondig in hierdie wêreld.
Maak gereed om Jesus van aangesig tot aangesig te sien, om voor God se troon
te staan en die Heilige Gees in sy volhied te beleef. Wees gereed!
Nee, meer nog... lééf gereed!
Ernest